Daar woed ’n storm om die kop van Jimmy Manyi, president van die Black Management Forum, omdat hy gesê het daar is “te veel bruin mense in die Wes-Kaap”. Kyk mens egter na die voorgestelde nuwe arbeidswetgewing, sal bruin mense dalk geen ander uitweg hê as om die Wes-Kaap te verlaat nie.
Die wysigings aan dié wet, wat reeds deur die kabinet goedgekeur is, wil wegdoen met streekkwotas. Volgens die wet sal kwotas nasionaal vasgestel word.
Tans moet 54,8% van die werknemers by ’n onderneming in die Wes-Kaap bruin wees. Indien die nasionale kwota toegepas word sal slegs 10,9% mag bruin wees. Bruin en wit werkers sal dalk in groot getalle afgedank word.
Die nuwe wysigings stel ook ’n boetestelsel in waarvolgens maatskappye met soveel as 10% van hul omset beboet sal word indien hul kwotas nie voldoen aan wetgewing nie.
