Vanoggend op die trein … het ek besluit om vir my een van daardie inkopiesakke op wiele, waarmee die senior burgers op Woensdae die sypaadjies na Shoprite blokkeer, aan te skaf.

Ek weet dis nie naastenby so sexy soos ‘n Gucci-handsak nie, maar amper soos met fietsry het mens nou allerhande parafernalia nodig om te kan treinry. Dit sluit in: ’n dik storieboek om te lees terwyl die trein vir twee ure tussen Paardeneiland- en Kaapstadstasie rus; ’n skokstok vir die skelms; ’n skerpgemaakte skroewedraaier waarmee ek walrusse wat langs my neerplof soos ‘n nat miskoek ontmoedig om die hele sitplek op te eis; waterstewels sodat ek nie nodig het om in die ongeïdentifiseerde vloeistof wat enkeldiep in die wa lê, te trap nie; ’n kopflits sodat ek ten minste my dik boek kan lees aangesien Suid-Afrikaanse treine sonder die luukse van funksionele beligting bedryf word, en sedert vandag ook ’n sambreel om te keer dat ek binne-in die trein natreën omdat die vensters nie kan toemaak nie.

Ek wou ’n foto neem van die kleurryke skouspel van oop sambrele op die 06h14 vanaf Bellville na Kaapstad via Monte Vista, maar daar was beligtingsprobleme.

Metrofail deur ~delwizzle
Metrofail deur ~delwizzle

Isabella Caramella het ’n bont sambreel

(Oorspronklik verskyn 16 September 2011)

Lewer kommentaar

Leave a Reply