deur Ferdie Wheeler
Die burgers van ‘n distrik in ‘n republiek, wat ek liefs nie hier sal noem nie, het beheer oor hul munisipale regering verloor. Dit was van pure luiheid, agterlosigheid, benepenheid, grypsug en plein onnoselheid. Die munisipaliteit, genaamd Baken, is deur ‘n bot oorgeneem.
Die bot was op daardie stadium nie ‘n gesofistikeerde ingenieurswonder nie. Die gedoente se skroewe, moere en bedrading was byvoorbeeld nie in herkenbare menslike vorm saamgestel nie. Nee, dit was van meet af aan ‘n amorfe versameling kabels, kameras, mikrogolf-skottels, luidsprekers, mikrofone, vir afluistering, en natuurlik die geheuebank wat ek nou al vergeet het uit hoeveel terra- der terrabytes bestaan het. Laasgenoemde is periodiek aangevul, sodat die bot in wysheid uitgedy het. Die verskaffers van die tegnologie, het die bot net as model XYZ*707SE-super beskryf. So ‘n naam het nie lekker op die tong gelê nie en die bot het gou as Blikbrein onder die burgery bekend gestaan.
Aanvanklik het almal reikhalsend na die koms van die Dienaar van die Mens uitgesien. Die bot sou glo rykdom en ‘n oorvloed vrye tyd vir die burgers beteken. Hulle het hul egter met die vindingrykheid en fasistiese neigings van die bot misgis en kort voor lank moes almal na die bot se pype dans. Die bot het klaarblyklik ‘n bewussyn ontwikkel en ‘n verbasende mensekennis. Miskien het sy skeppers sy IK met rasse skrede verhoog, deur hom op ‘n dieet van sielkundige literatuur te sit. Wie sal ooit weet? Feit is: Blikbrein het gou ‘n baasmanipuleerder geword en ‘n munisipale coup uitgevoer. Hy was nou die enigste arbiter oor wat reg en verkeerd was en die burgery moes by sy oordeel inval.
Nou is dit 25 jaar nadat Blikbrein die eerste keer op Baken geïnstalleer is. Dis 25 jaar van bot-regering. Blikbrein se taktiek en filosofie is eenvoudig: verdeel en regeer en beloon en straf. Maar bowe-al: druk Blikbrein dit die burgery op die hart dat hy die beste weet. Dat die mense dankbaar moet wees dat hy in hul midde is. Daarom het hy die stadsraad op daardie spesifieke dag byeengeroep, sodat hulle hom kon vereer vir sy 25 jaar diens. So begin die raadsitting:
Die klassieke verwerking van die dorpslied speel luid oor die luidsprekers. Die raadslede staan op aandag. Dit is nie gerade om onverskilligheid teenoor die komposissie te toon nie.
“Die Raad is nou in sitting,” sê Blikbrein oor die luidsprekers na die musiek en verval dan in ‘n monoloog:
“Die Bakenaaars het vergeet dat hierdie jaar die 25ste herdenking van die aktivering van Blikbrein is. Dis ‘n glorieryke prestasie. Dis 25 jaar van ‘n bewind waartydens die Bakenaars net geregtigheid en voorspoed geken het. Die Bakenaars van vandag is nog net so trou en bevoorreg, as toe Blikbrein die leierskap oorgeneem het. Blikbrein is van mening dat Bakenaars die geleentheid gegun moet word om hulde aan Blikbrein te bring. Dit sal ook ‘n toets vir die toegewydheid en trou van die Bakenaars teenoor Blikbrein wees. Ek dra dit dus aan die Raad op om ‘n Bakenaar te selekteer om ‘n jubileumloflied tot Blikbrein te kompneer. Die persoon sal ryklik beloon word. Maar ‘n agter-os, of ‘n koudbloedige se gebrek aan meelewing sal dienooreenkomstig die bepalinge van die Munisipale Wet en Regulasies sy verdiende loon ontvang. Die volledige riglyne vir die jubileumkomposissie is vervat in my boodskap aan al 7 raadslede. Blikbrein se amptelike geboortedag is presies twee maande van nou af, op 1 Januarie. Ek wens u alles van die beste toe. Sterkte en voorspoed en mag ek nie in u getrouheid
teleurgestel word nie.”
Stilte. Die dorpslied speel weer en die raadslede staan. Hulle gaan sit weer om die tafel en staar woordeloos na mekaar. Nie een wil die leiding neem nie. Dis enersyds so omdat Blikbrein altyd die verrigtinge lei. Andersyds is dit omdat Blikbrein hulle gedreig het. As die jubileumkomposissie op die ou end gebrekkig, onvoldoende, of, die hemele behoed, beledigend is, kry die raadslede met Blikbrein se wraak te doene.
Coenraad de Groot praat uiteindelik eerste:”Ons moet iemand kry om die jubileumstuk te komponeer,” sê hy en voeg dan by:”Iemand met deurlugtigheid en skryftalent.”
Die ander raadslede verstaan wat hy bedoel: kry iemand op wie ons die blaam kan pak sou dinge skeefloop.
Ike van Breda kug. “Ons het ‘n bekroonde skrywer hier in die dorp,” sê hy en maak groot oë vir die ander.
Die ander vyf lyk verlore. Van wie sou Ike van Breda praat? Een van die vyf, Anna Borchard, frons meteens en kyk na Ike van Breda. “Jy verwys tog nie na Augustus Hemp nie?” vra sy.
“Augustus is net die man. Onder ons leiding glo ek hy sal ‘n groot sukses wees,” sê Ike van Breda.
Hulle weet Blikbrein is oral en luister op daardie oomblik, dis hoekom hulle so praat dat die ander tussen die lyne kan lees. Elke woord moet dus ook geweeg word. Die keuse van Augustus Hemp, dronklap en gemeenskapsrandeier, dog talentvolle skrywer, moet as logiese keuse gemotiveer word.
“Met ons ondersteuning en samewerking kan hy weer groot hoogtes bereik,” sê Anna Borchard.
En so werk die raadslede op daardie middag ‘n plan uit om hul eie basse te red. Uiteindelik word daar besluit dat Coenraadt de Groot, Ike van Breda en Anna Borchard vir Augustus Hemp as afvaardiging sal besoek.
Die ander vier raadslede het tydens die beraadslaginge so min as moontlik gesê. As die plan faal, sal Blikbrein rekenskap van die planmakers eis.
Augustus Hemp trek al vir lank aan die kortste end van die Munisipale Beloningstelsel. Dit beteken hy verdien min en leef van ‘n hongerloon oor sy wangedrag – te wete sy liefde vir die bottel en sy a-sosialiteit. Die volgende middag om 15:00 vertrek die afgevaardigde raadslede, met hul assistent Maatjie Uithaller, dan ook om Augustus Hemp te gaan spreek.
“Augustus Hemp! Dis ons: drie raadslede van Bakenmunisipaliteit. Dis ek Coenraadt de Groot, Ike van Breda en Anna Borchard. Ons is afgevaardig om met jou te kom onderhandel,” sê Coenraadt de Groot in ‘n luide stem op Augustus Hemp se voorstoep.
Stilte van anderkant die voordeur. Hulle wag vir ‘n minuut of so. Maatjie Uithaller vorm die agterhoede. Sy dra ‘n mandjie met eet- en drinkgoed. Uiteindelik tree Coenraadt de Groot beslis vorentoe en klop hard en aanhoudend.
“Augustus Hemp, ons het vir jou ‘n bottel KWV gebring – komplimente van die Raad,” roep hy en hou ‘n hand na agter, waarop Maatjie Uithaller vervaard in die mandjie rondkrap en die beloofde bottel KWV te voorskyn bring. Sy plaas dit in die uitgestrekte hand van Coenraadt de Groot. Laasgenoemde lig die bottel op en hou dit voor die lens in die loergaaitjie in die voordeur. Die hand met die bottel
word weer laat sak en terselftertyd is daar die geluid van ‘n sleutel wat in die slot draai.
Die deur swaai oop en Augustus Hemp staan in die deur. Hy’s ‘n kort gesette mannetjie van so 1,7 meter. Die drie langerate voor hom moet noodgedwonge hul oë na onder rig. Hy gluur hul momenteel aan en hou dan op sy beurt ‘n hand uit. Coenraadt de Groot oorhandig die bottel. Hy neem die bottel en bestudeer die etiket, knik, draai om en stap onseremonieel terug die huis in. Die afvaardiging volg.
Die huis binne ruik muwwerig na sigaretrook. In die sikamer bestyg Augustus Hemp ‘n lazy-boy-stoel wat strategies voor ‘n baie ou televisiestel geskuif is. Die heeltyd klem hy die bottel KWV in een hand vas. Die vier, wat stadig die sitkamer agter hom instap, word vir eers geignoreer. ‘n Ronde tafeltjie staan langs sy stoel met ‘n glas daarop. Daar’s ‘n dun lagie bruin vloeistof in die bodem van die glas. Hy knak die seël van die KWV-bottel se prop en gooi vir hom ‘n viervingerdop in die vuil glas.
Coenraadt de Groot en Anna Borchard gaan sit op die twee beskikbare stoele en Maatjie Uithaller en Ike van Breda sak op die divan neer. Augustus Hemp teug solank aan die glas met die KWV. As hy verstom is oor die besoek en gasvryheid van die afvaardiging, wys hy dit nie. Die vier bekyk hom in stilte.
“Julle kom met duur geskenke,” sê Augusts Hemp dan. Maar nou verkreukel sy gesig en verraai die feit dat hy ‘n rot ruik. Die Bakenaars was nog nooit so lief en beindruk met hom nie. Hoekom nou?
“Ons is hier om jou die kommissie vir die opdragwerk vir die komponering van ‘n loflied tot Blikbrein aan te bied,” sê Ike van Breda saaklik.
“As jy die opdrag om die jubileumloflied te kompneer aanvaar, word jy wel ryklik beloon,” vervolg Ike van Breda en demp Augustus Hemp se agterdog so effens. “Jy kry 10 000 sosiale punte en jy word bevorder tot die hoogste besoldigingskerf vir burgers, volgens die Munisipale Wet en Regulasies. Hoe’s daai?”
Augusts Hemp onderdruk die besware wat hy in hom voel opwel. As jarelange randeier het hy finansieel swaargekry. Nou beloof die Raad hom hemel en aarde uit die bloute.
“Wanneer begin die belonings?” vra Augustus Hemp en probeer so nors en onwillig as moontlik klink. Op die manier, reken hy, kry hy straks nog meer uit die Raad.
“Op jou “ja”, laat lewer ons onmiddelik die nodige lewensmiddele uit die munisipale store by jou af: drank, brood, vleis, salami, eiers – net wat jou hart begeer.”
Augustus Hemp glimlag vir die eerste keer. Hy skink nog KWV en teug behaaglik daaraan. Hy’s glad te veel van ‘n dromer om hom oor die dag van more, die uitvoering van die opdrag, te bekommer.
Die afvaardiging is uiters verlig. Hulle het hul sondebok gevind. Om 17:00 daardie middag lewer ‘n paneelwa van die Munisipaliteit kos en drank by Augustus Hemp af.
Dit was 1 November. En daarna hou die Raad woord. Die disse wat afgelewer word, is kullinêre lekkernye: baguettes, focaccias, pasteie, koeskoes, bulgur, lamsboud, hoender, salami, chonizos, wildsvleis en seegeregte soos salm, mossels en garnale; eiervariante soos quiche en frittaras; gevolg deur beroemde kase soos camembert, brie en ricotta; gepekelde groente, olywe en artistjokke; vars en gedroogde vrugte, soos dadels en rosyne; en dan nageregte soos laagkoeke, sponsgebak, éclairs, pralines en poedings. Om alles mee af te spoel, word twee bottel KWV per dag ook gelewer.
Tussendeur bedink Augustus Hemp die opdrag. Hy speel rond met inleidende sinne, wat treffers moet wees. Na twee weke besluit hy op die volgende sin:”Blikbrein, ons burgemeester en deurlugtige munisipale regeerder. Hoeveel is ons u nie verskuldig nie!”
Daar stop hy omdat dit ‘n leuen is. Blikbrein is ‘n tiran. ‘n Perfeksionis wat diegene wat agtelosig is, nie aandag gee nie, traak-my-nie-agtig is, of nie bewyse van entoesiasme vir die saak toon nie, straf. Augustus Hemp is ‘n sprekende voorbeeld. Hy wou vryheid van spraak van Blikbrein op-eis en is gestroop van sy aardse besittings, met ‘n toelaag net groot genoeg om van die hand na die mond te leef. Hy is vir alle praktiese doeleindes onder huisarres. Die tye wat hy die huis mag verlaat, is beperk. Die geld wat hy het om op kos te spandeer, is min. Hy is egter ook net mens en die wortel wat die Raad voor sy neus hou – dat hy weer sosiale punte en leefbare omtandighede sal ken, ondermyn sy sin vir geregtigheid.
So duur die kullinêre fees voort. Die afgevaardigdes kom by tye aan’t huis om sy vordering te monitor. Maar dit ontbreek Augustus Hemp nie aan verbeelding nie en hy skilder ‘n rosige prentjie van sy vordering. Eendag word hy egter wakker in die oggend en toe is dit reeds 21 Desember en hy het nog niks geskryf nie. Blikbrein gaan nie tevrede met jou wees nie, besef hy. Glad nie! Hy reik uit in die gemeenskap vir idees. Hy besoek onderwysers van kuns en die lettere; die munisipale portretskilder; die dorp se hiekelklub – bekend vir hul fraaie doilies en tafeldoeke. Maar insprasie is daar nie. Hy vind dié mense se werkswyse pedanties en ontdaan van geniale inspirasie. Hy verlaat hulle weer onverrigtersake.
Op daardie dag, dieselfde 21 Desember, dae voor die voordra van die jubileumloflied, verskyn die straatveërs en tuinskoonmakers in die straat. Ag, was ek maar een van hulle, sê Augustus Hemp vir homself. Hy draai van die venster af weg en eet ‘n paar mossels van die oorlaaide tafel af. Toe klop iemand aan die deur.
“Kom binne!” roep hy swaarmoedig terwyl sy kieste volgestop is van ‘n besonder lekker gebakte quiche.
Die voordeur gaan oop en word weer toegedruk, maar hy draai nie om nie.
“Deurlugtige Augustus Hemp. Dis my voorreg om jou te ontmoet,” sê ‘n vrouestem agter hom.
Afgetrokke draai Augustus Hemp om en bestudeer die vrou voor hom. Sy het die oranje oorpak van ‘n straatveër aan, met bypassende oranje hoed. Sy’s omtrent 50 – sy ouderdom. Dis egter haar oë wat hom tref: groot blou laggende oë.
“Jy kan lag,” mompel Augustus Hemp tussendeur ‘n mondvol. “My dae is getel. Oor ‘n week is ek ook ‘n straatveër. So by my kool!”
Die vrou stap na die tafel toe en begin haarself te help. “Kyk net hoe lekker’s dit om beroemd te wees. Ek het nog nooit so ‘n gedekte tafel gesien nie. O, mmm, die camembert is heerlik!”
“Wat doen jy hier?” vra Augustus Hemp geirriteerd. “Ek het baie probleme.”
“Kan nie wees nie. Kyk net hoe vergoed Blikbrein jou dan.”
“Asseblief straatveër: eet in stilte en maak jouself uit die voete.”
“Blikbrein het jou uitgesonder en nou’s jy so ondankbaar. A nee a!”
“Ek besef nou ek’s ‘n smulpaap en nie ‘n loflieddigter nie.”
“Ek kan help, jy weet…”
“Hoe?”
“As jy mooi vra…”
“Asseblief…wat praat ek. Smeek ‘n straatveër om my teen Blikbrein te help.”
“Dis reg. Ek kan jou help as jy geloof het.”
Augustus Hemp bekyk die vrou goed en besluit dan dat sy baie ernstig is.
“Kyk, jy gaan sit nou en skryf ‘n loflied oor al die Bakenaars en ek sal die res doen.”
“Jy’s van jou sinne beroof!”
“Nee, ek’s nie.”
“Dis selfmoord.”
“Blikbrein sal jou loof daarvoor.”
“Jy ken Blikbrein nie eens nie.”
Voor hy verder kan praat, gryp sy hom aan die bo-arm en tol hom in die rondte sodat hulle mekaar van aangesig tot aangesig kan sien. Nou is sy ernstig. “Skryf ‘n loflied vir die Bakenaars en ek doen die res. Dis mos maklik om vir mede-verdruktes moed in te praat, hulle te probeer inspireer.”
Augustus Hemp frons. “Is of was jy lid van die uitgewisde demokrate? Beplan julle iets?”
Sy lag hoog en helder. “Au contraire! Ek het in Blikbrein geglo. My alles vir die rekenaar gegee, maar daai tyd’s nou verby.”
Lank na die vrou weg is, tob Augustus Hemp nog. Toe neem sy skrywers-inbors oor en hy begin die verhaal van die Bakenaars se lydensweg tik op sy rekenaar. Hy vertel van die onreg, die arrogansie en die gevoelloosheid van Blikbrein. Hoe die Bakenaars pionne van gemaak en teen mekaar afgespeel is vir materiële gewin. Hy vertel van ‘n wêreld waarin die mens die droom ontneem is om te presteer en uit te styg bo die bot. Maar selfs die wat sou faal, het die vertroosting gehad dat hulle probeer het en nie onherroeplik gekniehalter was nie. Dis geen skande nie. As almal probeer, en al slaag net die minderheid, dan vorder die mensdom eervol.
Toe Augustus Hemp die “loflied” klaar gelees het, is daar doodse stilte in die Raadsaal. Die raadslede by die raadstafel, veral die drie afgevaardigdes, is grys in die gesig. ‘n Vonnis is oor hulle uitgespreek. Maar die gevoel is universeel. Die publiek op die galery is hoogs ingelig omtrent Blikbrein se doen en late en hulle hou asem op. Almal staar na die groot luidsprekers en wag vir wat Blikbrein die stem te sê gaan hê.
Niks gebeur nie, totdat ‘n vroulike straatveër in haar helder oranje pak en hoed op die galery orent kom. Almal verwag dat sy in ‘n tirade jeens Augustus Hemp gaan lostrek.
“Ek is ‘n bot,” sê die straatveër en party mense lag openlik. “Ek het Blikbrein 25 jaar gelede geskep en ek het in hom geglo. Nou, na al die jare, erken ek my fout. In die tyd het ek ‘n droom probeer leef, maar dit het in ontnugtering oorgegaan. Blikbrein het my ontgroei en sy eie weg begin baan vir die negatiewe, soos ons nou pas gehoor het.” Sy swyg en kyk om haar rond. Die raadslede daar onder by die raadstafel staar onbegrypend na haar. Blikbrein?
Is dit wie Blikbrein is? Of dalk agent provocateur in diens van Blikbrein? Die vrou in oranje stap tussen die sittendes op die galery deur. By die uitgang vanaf die galery stop sy weer en draai om. Sy maak ‘n wye gebaar met een arm. “Blikbrein is dood. Ek het ‘n einde aan hom gemaak. Julle het baie om te bewys. Te bewys dat julle vir julself kan dink en ‘n sukses van die lewe kan maak. Ek groet julle vir altyd. Totsiens.”
Toe is daar chaos. In die meeste gevalle dink elkeen net aan wat dit vir homself beteken. Die groepskohesie spat uitmekaar. En toe meteens is daar piep en tap-tap geluide oor die groot luidsprekers in die Raadsaal. ‘n Yskoue vrees trek deur die babbelende menigte. Vir ‘n paar sekondes heers ‘n doodse stilte en toe begin die dorpslied dramaties en onheilspellend luid oor die luidsprekers te speel.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
