In ‘n mark wat deur grotendeels doodgewone luikrugmotors in die C-segment gekenmerk word, verteenwoordig die Suzuki SX4 ‘n vars en opwindende denkrigting wat heeltemal van die gewone wegbreek.
Die SX4 is ontwerp om aan die behoeftes van lewenstylgerigte motorryers te voldoen – en selfs daardie behoeftes te oorskry. Dié unieke kruisdoel-voertuig sorg nie net vir bykomende veelsydigheid nie, maar sal ook kopers lok met ‘n begeerte na ‘n individuele voertuig wat bo die norm uitstyg.
Die SX4 is deur die Suzuki-Motorkorporasie (SMK) ontwerp as deel van die maatskappy se ‘X-Over Revolution’-projek, wat daarop gemik is om die bestaande vernuf van die sportiewe kompakmotors met die gevestigde voortreflikheid van sy klein sportnutsvoertuie (SNVs) te verbind.
Suzuki se eiesoortige DNA, sy geskiedenis van vernuf en sy trotse tradisies omvat almal die gehalte van sy motor-, motorfiets- en mariene-afdelings. Dit is egter die kombinasie van hierdie elemente waarin die SX4 se werklike krag en identiteit gesetel is.
Die dinamiese, maar tog gesofistikeerde kruisdoelontwerp van die SX4 is pasgemaak vir diegene wat onverbonde lewens lei, terwyl sy dinamiese bestuursplesier en die SNV-gerigte veelsydigheid saam die SX4 se bekwaamhede dramaties verbreed. Die gevolg is ‘n werklik begeerlike wegbreekvoertuig.
Juis daarom is die SX4 die volmaakte uitbeelding van Suzuki se ‘Way of Life’-filosofie en -siening. Dié luikrug versinnebeeld werklike bestuursplesier, ‘n prettige karakter en ware eienaarstevredenheid.
“Die Suzuki SX4 is ‘n sportiewe kruisdoelvoertuig wat volmaak by aktiewe lewenstyle inskakel,” verduidelik Osamu Honda, Uitvoerende Voertuiglyn-Bestuurder van Motoringenieurswese by SMK in Japan.
“Van die begin van die SX4 se ontwikkelingsprogram was ons hele ingenieurspan geesdriftig oor die doelwit om ons klein motors heeltemal te hervorm, en ook met ‘n spitsmodel vorendag te kom wat die ‘Nuwe Suzuki’-naam gestand sou doen.”
“Deur te besef hoe belangrik is om die bak en onderstel so stram moontlik te vervaardig, kon ons dinamiese verrigtingseienskappe ontwikkel wat terselfdertyd akkuraat en vergewensgesind is. Dit beteken dat die motor vasvoetig en maklik bestuur, selfs as daar met geesdrif gery word, of wanneer lang afstande aangedurf word.”
Volgens Honda-san is die stilering van die motor soortgelyk benader. “Die ooglopende vorm is vloeiend en elegant, ondanks die doeltreffende, kompakte afmetings. Dit sorg vir ‘n sterk, treffende ontwerp met ‘n aktiewe element wat nie by ander kompakmotors sigbaar is nie.
“Die uiteindelike gevolg hiervan is ‘n kompakmotor wat steeds ruim gerief en baie praktiese eienskappe bied. Die motor is geen swaargewig nie – inteendeel, dit is rats, slank en ekonomies. En die ontwerp straal veelsydigheid uit.”
Daarom, sê hy, sal die SX4, met die hulp van sy doeltreffende buite-afmetings en ruim kajuit, maklik die uitdagings van daaglikse pendelritte baasraak, terwyl sy veelsydigheid ook sal sorg dat ‘n groter getal klante die SX4 vir meer as net sy pendelrol sal aanwend en geniet.
As daar ‘n enkele woord is wat die SX4 omskryf, is dit ‘indrukwekkend’. Die motor se selfversekerde teenwoordigheid is indrukwekkend. Sy ongewone kombinasie van taaiheid en sofistikasie is indrukwekkend. En die uiters funksionele aanslag van die motor, binne en buite, is eweneens indrukwekkend.
Maar die SX4 is veral ‘n treffende motor wat belangstelling prikkel in ‘n mark waar die alledaagse die norm is. Sy sterk visuele trekpleisters sluit onder meer die groot ‘S’-kenteken voor op die sierrooster in, asook die gekurfde kopligte en die bakwerk se lae en wye verhoudings, wat op die SX4 se onderliggend sportiewe bloedlyn dui.
Die middellyn wat na bo loop en die groot glasoppervlakke het ‘n sportiewe, wigvormige bak tot gevolg wat op aktiewe verrigting en vasvoetige padgedrag dui, terwyl die aantreklike allooiwiele van 16 duim, die beklemtoonde wielboë en die dakrak visuele spierkrag en doelgerigtheid aan die motor verleen.
Die SX4 is doodeenvoudig ‘n unieke, meervoudige motor wat uit elke hoek opwinding en pret uitstraal.
Dit is ‘n tema wat ook binne voortgesit word. Dit vermeng ‘n gemaklike, ergonomies doeltreffende ontwerp met ‘n verwelkomende gevoel van gerief, weergalose gehalte en ware verfyning. Die binneruim is grotendeels swart, maar met metaalagtige aksente wat die SX4 se weeldestatus verder beklemtoon.
Die instrumentepaneel kantel weg van die insittendes, wat ‘n gebruiksvriendelike en bevrydende indruk skep. Die belangrikste kontroles en instrumente is strategies geplaas om so sigbaar moontlik te wees en vir regstreekse interaksie met die bestuurder te sorg.
Die SX4 is ontwikkel om ‘n gesin van vyf of vier volwassenes met gemak te vervoer. Dit bied ruim binne-afmetings vir indrukwekkende been-, kop- en skouerruimte, veral wat die agterste insittendes betref.
Die agtersitplek is effens hoër as die voorste sitplekke gemonteer om beide gerief en die sig na alle kante te verbeter. Die volmaakte hoogte van die sitplekke word aangevul deur deure wat groot oopmaak en ‘n grondvryhoogte van 175 mm, wat in- en uitklim vergemaklik.
Nes ‘n mens sou verwag strek die veelsydigheid van die SX4 tot in die bagasieruim. Die agtersitplek is 60/40 verdeel en vou maklik plat om die reeds ruim bagasiebak van 270 liter tot ‘n maksimum van 625 liter te vergroot.
Die binneruim bied ook ‘n magdom bergplekke en -kompartemente vir die aktiewe gesin, wat onder meer beker- en bottelhouers voor en agter insluit, asook ‘n nuttige uittreklaai onder die voorste passasiersitplek.
