‘n Tikkie plaaslike kleur by Adenco 400

Daar sal ‘n tikkie plaaslike kleur by die Adenco 400 wees wanneer Derek du Toit en André Rheeder vir die openingsronde van die Absa-Veldrenkampioenskap op 19 en 20 Maart by Darling aantree.

Die Kaapgebaseerde Du Toit is die huidige Klas B-jaerskampioen en sal vir die eerste keer met Rheeder kragte in die Orange Tree-BAT saamspan. Rheeder is die bestuurder van die Ormonde-wynplaas in die Darling-omgewing en is deur die plaaslike besigheidsman, Theo Basson, omgepraat om vir Du Toit te navigeer.

Basson speel ‘n groot rol in die organisering van die Adenco 400 en bykomende handelsmerke sal deur middel van die Ormonde en Alexanderfontein Kellers op die Orange Tree-BAT aangebring word. Dit was Basson wat voorgestel het Du Toit raak by Rheeder betrokke.

Alhoewel hy oor geen vorige veldryondervinding beskik nie, is Rheerder nie ‘n vreemdeling in die renkultuur nie. Hy het aan kragbootwedrenne deelgeneem en was die organiseerder van die Trans Agulhas-bootren in 1994 en 1995.

“André is baie opgewonde oor die geleentheid om aan veldrenne deel te neem,” het Du Toit gesê. “Ons sal die Darling-wynondervinding bemark en met Theo wat ‘n voorslag is wat die organisasie betref, sal daar nogal effens druk op ons wees.

“Ek en André sal moet uithaal en wys tydens die ren, maar ons sien uit na die uitdaging.”

Met laat inskrywings wat nog deur die organiseerders hanteer moet word, hoop die Kaapse Skiereiland Motorfiets- en Motorklub om ‘n inskrywingslys van meer as 55 inskrywings saam te stel.

“Ons het reeds 46 voertuie in die Spesiale en Produksievoertuigkategorieë,” het Bill Bright gesê. “Die afsnytyd vir inskrywings is later vandeesweek en ons is vol vertroue dat ons ongeveer 55 voertuie sal hê.

“Die organisasie het vlot verloop. Die samewerking van die plaaslike gemeenskap was weer eens uitstekend en ons sien na nog ‘n suksesvolle byeenkoms uit.”

Die renhoofkantoor, die wegspring- en eindpunte asook die aangewese dienspark sal by die Darlingklub wees. Die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies sal bepaal, begin Vrydag, 19 Maart om 13h30 terwyl die ren Saterdag (20 Maart) om 08h00 sal afskop.

Daar sal verskeie toeskouerpunte binne maklike bereik van die Darlingklub wees en toegang tot die begin- en eindpunte en toeskouerpunte is gratis.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply