‘n Vars gesig vir Peugeot se 207

Peugeot se 207-luikrugmotorreeks het ’n ingrypende reeks verbeteringe ondergaan. Die veranderinge geld ook die 207 CC-afslaankapmodel, en behels onder meer ’n kraakvars voorkoms, terwyl ’n diensplan nou as standaard ingesluit word.

 

Onder die aanpassings tel ’n varser, meer moderne voorkoms, asook ’n hersiene binneruim, met ’n gepaardgaande opgradering van die lys standaardtoerusting. ’n Kragtiger, uiters doeltreffende enjin van 1,4 liter is ook by die modelreeks gevoeg.

Daarbenewens het Peugeot die 207-reeks se modelbenamings verander. Die vorige XL, XR+ en XS-benamings staan voortaan as Urban, Active en Dynamic bekend.

Die hersiene 207-reeks bestaan steeds uit driedeur- en vyfdeur-luikrugweergawes, asook die atletiese, uiters aantreklike CC-afslaankapmodel. Die motors word deur ’n verskeidenheid petrol- en turboaangejaagde dieselenjins aangedryf.

Vars stilering
Waarskynlik die mees opmerklike verandering aan die nuwe Peugeot 207 is die vooraansig, wat nou met ’n geheel nuwe sierrooster toegerus is, terwyl detailveranderinge na gelang van die spesifieke model geld. Die misligte is ook op toepaslike weergawes herplaas.

Alle 207 Urban- en Active-modelle spog met ’n groter, meer opmerklike sierrooster wat in gitswart afgewerk is. Die sierrooster van die Dynamic-weergawes het ’n blink chroomafwerking, met chroom-omraamde misligte.

Peugeot 2007
Peugeot 2007

Die sierrooster van die 207 CC Sport 2- en GTi-weergawes is metaalgrys, met ’n middelste balk in glinsterswart, terwyl die misligholtes meer opmerklik gevorm is.

In profiel beskou, word die Dynamic- en CC Sport 2-weergawes se kleurbypassende smukstroke aan weerskante van die motor met blink insetsels beklemtoon.

Van agter is dit die nuwe, gevorderde stertligte wat die meeste aandag trek. Dié ligte maak gebruik van liguitstralende diodes – ’n tegnologie wat nie gewoonlik in dié marksegment aangetref word nie. Die 15 diodes sorg vir meer doeltreffende liguitstraling, en lyk ook besonder aantreklik.

Die wiele waarmee die onderskeie 207-weergawes toegerus word, het ook verander. Urban-modelle nou spog met ‘Hobart’-staalwiele van 15 duim, terwyl die agtspeek-staalwiel van die Active-modelle as die ’Brisbane’ bekend staan, en ook ’n deursnee van 15 duim het.

’n Nuwe ‘Canberra’-allooiwiel van 16 duim met ’n vyfspeekontwerp is nou standaardtoerusting op alle Dynamic-modelle, terwyl die CC Sport 2 en die GTi se ‘Melbourne’-allooiwiel van 17 duim met agt gepoleerde speke spog.

Deftige binneruim
Die jongste verbeteringe aan die 207-reeks is ook binne van toepassing. Die 207 is reeds bekend vir sy hoë vlakke van gerief, sy volledige lys standaardtoerusting en die tasbare gehalte van sy binneruim. Die jongste weergawe stel die visier nog ’n bietjie hoër.

Peugeot 2007
Peugeot 2007

Sleutelkenmerke soos die vloeiende, ergonomies doeltreffende instrumentepaneel, asook die duidelik sigbare wyserinstrumente het behoue gebly, maar die verbeteringe is tog oral sigbaar.

Daaronder tel vars afwerkings, ’n nuwe beheerpaneel vir die lugreëling wat meer gebruiksvriendelik is, en ’n hersiene lys standaardtoerusting. Die algehele indruk plaas die klem nou selfs sterker op moderne ontwerp en die welbehae van die insittendes, terwyl tasbare gehaltevlakke nog hoër is.

In 207-weergawes met enjins wat aan die jongste Euro 5-vereistes voldoen, is daar nou ’n ratskakelaanwyser in die digitale uitleespaneel tussen die twee ronde wyserinstrumente.

Dié aanwyser dui aan wanneer ratte gewissel moet word om die bes moontlike brandstofverbruik, en dus ook die laagste CO2-uitlaatgasvlakke moontlik, te behaal.

Die ratskakelaanwyser bepaal die ideale skakelpunte deur onder meer die voertuigsnelheid, die rat wat in gebruik is, die enjintemperatuur en die enjinsnelheid in ag te neem, asook hoe die voertuig bestuur word.

’n Nuwe kenmerk waarmee alle nuwe 207-modelle voortaan toegerus word, is rigtingaanwysers met ’n enkelaktiveer-funksie. Die rigtingaanwyshefboom hoef net een keer op of af gekantel te word om die rigtingaanwysers drie keer te laat flits – byvoorbeeld wanneer daar van rigting verander of bane gewissel word, of as ’n stadiger voertuig verbygesteek word.

Dié 207-modelle met elektries beheerde vensters voor en agter se kantruite kan nou met afstandbeheer toegemaak word deur eenvoudig die sluitknoppie op die afstandbeheer-sender ingedruk te hou totdat die ruite toe is.

Die 207 Dynamic-weergawes se lang lys standaardtoerusting sluit nou Elektroniese Stabiliteitsbeheer (ESP) in, asook ’n truspieël wat self verdonker wanneer helder ligte daarin weerkaats. Getinte vensters, elektries beheerde ruite voor en agter, ’n USB-prop wat aan die klankstelsel gekoppel is, en ’n geïntegreerde Bluetooth-kommunikasiestelsel vir selfone is ook op die lys.

Die 207 CC Sport 2 spog ook met die USB-prop en die Bluetooth-stelsel, maar kry boonop banddruksensors om die bestuurder te waarsku as ’n band pap word.

Nuwe kragbron verbreed enjinkeuse
Nes voorheen word die 207-reeks met ’n verskeidenheid petrol- en turboaangejaagde dieselenjins gebied.

Die 207 Urban 1.4-intreevlakmodel is in beide driedeur- en vyfdeurbakvorms beskikbaar. Die motor se viersilinderenjin van 1 360 cc voldoen aan die jongste Euro 5-uitlaatgasvereistes.

Die eenheid lewer maksimumkrag van 54 kW by 5 400 r/min, terwyl die wringkragpiek van 118 Nm by 3 300 r/min bereik word. ’n Vyfgang-handratkas dra die krag na die voorwiele oor.

Die 207 1.4 Urban versnel in 14,4 sekondes van 0 tot 100 km/h, en behaal ’n topsnelheid van 167 km/h. Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus kom op ’n indrukwekkende 6,4 liter/100 km te staan, terwyl die CO2-uitlaatgasvlak 147 g/km beloop.

Die 207 Active 1.4 VTT se kragbron is ’n nuwe toevoeging tot die 207-reeks. Dié viersilinderenjin van 1 397 cc is met veranderbare kleptydreëling vir die inlaat- en uitlaatkleppe toegerus, terwyl die kleplighoogte van die inlaatkleppe ook verander kan word.

Die nuwe enjin voldoen aan Euro 4-vereistes en lewer 70 kW by 6 000 r/min, tesame met 136 Nm by 4 000 r/min.

Die 207 Active 1.4 VTT versnel van 0 tot 100 km/h in 11,5 sekondes, en bereik ’n topsnelheid van 185 km/h. Nogtans is die brandstofverbruik in die gekombineerde siklus net 5,9 liter/100 km, met ’n CO2-uitlaatgasvlak van net 145 g/km.

Dien 206 Dynamic 1.6 VTi se kragbron is ’n viersilindereenheid van 1 598 cc, wat ook met veranderlike kleptydreëling en -lighoogte toegerus is. Die maksimumkraglewering kom op 88 kW by 6 000 r/min te staan, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 160 Nm by 4 250 r/min. Die motor het ’n vyfgang-handratkas en is voorwielaangedrewe.

Die bykomende krag word ook in die werkverrigting weerspieël. Die 207 1.6 VTi versnel in 9,6 sekondes van rus tot 100 km/h, en spog met ’n topsnelheid van 190 km/h. Die brandstofverbruiksyfer vir die gekombineerde siklus beloop ’n indrukwekkende 6,1 liter/100 km, terwyl die CO2-uitlaatgasvlak op 141 g/km te staan kom.

Die enigste dieselmodel in die 207-reeks is die 1.6 HDI FAP, met ’n maksimum-kraglewering van 80 kW by 4 000 r/min, en ’n wringkragpiek van 240 Nm (260 Nm met ekstra aanjaging) by net 1 750 r/min. Die turbodieselenjin voldoen aan Euro 4-vereistes en sorg vir uitnemende verrigting.

Die 0-100 km/h-versneltoets word in net 10,1 sekondes kafgedraf, terwyl die topsnelheid 193 km/h beloop. Terselfdertyd is die 207 HDI se brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus slegs 4,5 liter/100 km, terwyl die CO2-uitlaatgasvlak op 120 g/km te staan kom.

Die jongste 207 CC Sport 2 het ’n turboaangejaagde viersilinder van 1 598 cc onder sy enjinkap, wat 110 kW by 5 800 r/min en 240 Nm by 1 400 r/min lewer.

Wat verrigting betref, sluit die sleutelsyfers vir dié model ’n 0-100 km/h-versneltyd van 8,6 sekondes en ’n topsnelheid van 210 km/h in, terwyl brandstofverbruik in die gekombineerde siklus 7,2 liter/100 km beloop. Die CO2-uitlaatgasvlak kom op 171 g/km te staan.

Die blitsigste buksie in die hele modelreeks bly ongetwyfeld die energieke 207 GTi. Nes die CC Sport 2 word hy deur ’n turboaangejaagde viersilinderenjin met ’n inhoud van 1 598 cc aangedryf.

Maar die kraglewering is tot 128 kW by 6 000 r/min verhoog, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 240 Nm wat reeds by 1 600 r/min beskikbaar is.

Dit sorg dat die GTi nie skaam is as dit by verrigting kom nie. Die 0-100 km/h-versneltoets word in net 7,1 sekondes afgehandel, terwyl die motor ’n maksimumsnelheid van 220 km/h bereik.

Desondanks sluk die GTi ’n skamele 7,2 liter brandstof vir elke 100 km in die gekombineerde siklus, terwyl die CO2-uitlaatgasvlakke op net 171 g/km te staan kom.

Die nuwe Peugeot 207-reeks word amptelik einde September vanjaar bekend gestel, maar net die driedeur-Urban 1.4 en die Active sal aanvanklik te koop wees. Die volle reeks 207-weergawes sal vanaf middel Oktober beskikbaar wees.

Pryse
207 Urban 1.4 3-Deur R150 000
207 Urban 1.4 5-Deur R157 000
207 Active 1.4 VTT 5-Deur R170 000
207 Dynamic 1.6 VTi 5-Deur R200 000
207 Dynamic 1.6 HDi 5-Deur R215 000
207 GTi 1.6 THP 3-Deur R245 000
207 CC 1.6 THP Sport 2 R285 000

Alle Peugeot 207-modelle word voortaan deur ’n diensplan van vier jaar/60 000 km en ’n waarborg van drie jaar/100 000 km ondersteun, terwyl die Peugeot Assistance-padbystanddiens ook by die verkoopprys ingesluit is.

Lewer kommentaar

Leave a Reply