Oproep om Nestlé te boikot oor “bloedmelk”

Die Suid-Afrikaanse burgerregte inisiatief, AfriForum, het ʼn internasionale veldtog begin om mense aan te moedig om alle Nestlé-produkte te boikot, sou Nestlé nie teen 7 Oktober 2009 ʼn besluit neem om die aankoop van melk van Grace Mugabe – vrou van Zimbabwiese president Robert Mugabe – te staak nie.

 

AfriForum het reeds ʼn webblad, www.nestlebloodmilk.com, geskep, waar die boikotaksie bekendgestel word. Op die webblad is ook foto’s en video-insette waarmee AfriForum wil uitwys dat die Mugabe-regering die mense van Zimbabwe onderdruk. ʼn Skakel is op die webblad gesit waardeur die publiek wêreldwyd protesboodskappe aan Nestlé se hoofkantoor in Switserland en kantore in Suid-Afrika en Zimbabwe kan stuur. AfriForum het klaar skrywes aan dié kantore gestuur rakende die veldtog wat begin is.

As deel van die veldtog beplan AfriForum verder om menseregtegroepe wêreldwyd te vra om ook druk op Nestlé te plaas.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die melk wat op Grace Mugabe se suiwelplaas geproduseer word, “bloedmelk”. Kriel wys daarop dat Mugabe en sy binnekring hulle rykdom bekom het deur die gewelddadige onderdrukking van duisende mense in Zimbabwe.

“Nestlé se aankoop van sowat 1-miljoen liter melk van dié plaas wat Grace Mugabe onder verdagte omstandighede “bekom” het, is ’n miskenning van die basiese menseregte van elke Zimbabwiër wie se bloed gevloei het, en steeds vloei aan die hand van Mugabe se brutale veiligheidsmagte en vigilante groepe,” het Kriel gesê.

Nestlé is volgens Kriel ʼn verskoning aan die mense van Zimbabwe verskuldig.

Lewer kommentaar

Leave a Reply