Die Shoprite-groep verkoop meer produkte as wat die wêreld se grootste aanlyn-kleinhandelaar, Amazon, op sy beste verkoopdag van die hand sit, sê Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof, berig Nellie Brand-Jonker.
Hy het op ’n aanbieding van Shoprite se resultate vir die boekjaar tot begin Julie aan beleggers gesê in die langer as ’n uur wat hy met hulle gepraat het, is sowat 3,5 miljoen artikels verkoop.
“Dit moet ’n aanduiding gee van hoe groot die onderneming is.”
Dit is meer as 700 artikels per sekonde.
Hy het ’n vergelyking getref met die verkope van die wêreld se grootste aanlyn kleinhandelaar, Amazon, op sy grootste verkoopdag. Dit was 636 produkte per sekonde.
Shoprite het op sy grootste promosieverkoopdag 1 389 produkte per sekonde verkoop.
Engelbrecht sê vergeleke met Amazon wat teen $460 miljard gewaardeer is, waardeer beleggers die Shoprite-groep op $9 miljard.
Hy het daarna verwys toe hy oor die groep se plan gepraat het om groei vol te hou. Dit sluit in om in fisiese infrastruktuur te belê soos ‘n nuwe verspreidingsentrum in Kaapstad.
Beleggers plaas hoë waardasies op aanlyn-winkelgroepe omdat hulle glo winkelgroepe met fisiese winkels is uitgedien.
Engelbrencht meen infrastruktuur soos die verspreidingsentrum is juis ‘n voordeel vir aanlyn-verkope. “Ons is ‘n sukklende ekonomie waar werkverlies plaasvind en nie werkskepping nie. Ons kry dit steeds reg om 6 000 plus nuwe poste per jaar te skep.”
“Die gevolg is dat ons nou die grootste werkskepper in die private sektor is. Ons het meer as 140 000 mense op ons salarisrol.”
Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van Shoprite-groep, het getoon in die 7 jaar sedert die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010 het die groep sy omset en handelswins verdubbel en 55 000 werksgeleenthede geskep.
