Ontneem van seks; vind heenkome in alkohol

Kan jy assosieer met die opskrif? Dan is jy waarskynlik ‘n vrugtevlieg; of miskien ‘n mens.

Manlike vrugtevlieë wat seksueel verwerp word wend hulle tot die oormatige gebruik van alkohol. Kortliks: hulle raak suiplappe in vergelyking met ander vrugtevlieë.

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco, het ‘n molekule in die vlieg se brein gevind wat sy gedrag beïnvloed. Soos die vlakke van die molekule wissel, so verander die vlieg se gedrag.

Sosiale gedrag beïnvloed die voorkoms van die molekule in die brein. M.a.w. as daar iets gebeur in die vlieg se lewe wat vir hom traumaties is word die molekule minder. Die gevolg; hy suip homself te pletter.

Een van die dinge wat die wetenskaplikes aan die arme manlike vrugtevlieë gedoen het, was om hulle in ‘n houer te plaas saam met ‘n groep maagde. Die maagde was baie gretig om die mannetjies van nader te leer ken, maar na hulle genoeg “ervaring” opgebou het, wou hulle niks meer van die mannetjies weet nie. (Ek sweer ek maak dit nie op nie.)

Dis presies op hierdie punt waar hulle drinkgewoontes verander. Die wetenskaplikes het dan vir hulle twee strooitjies aangebied; een sonder alkohol en een met alkohol. Die vrugtevlieë wat verwerp is, het dan behoorlik aan die suip gegaan. (Ek sê weer; ek maak dit nie op nie.) Die gedrag was heeltemal voorspelbaar, gemeet aan die vlak van die molekule in die brein. Die navorsers het natuurlik ook bewys dat hulle drinkgewoontes kan manipuleer sonder ‘n wyfie, deur eenvoudig die vlak van die molekule te wissel.

Drink jou sorge weg
Drink jou sorge weg
Hoekom die navorsing doen? Mense het ‘n soortgelyke molekule in hulle brein en sosiale gedrag mag dalk ook die vlakke daarvan laat wissel. Dit hou dalk ook verband met drank- en dwelmmisbruik. Net soos die vrugtevlieg.

Indien jy nog steeds glo ek maak dit op, lees gerus die artikel, “Sexual Deprivation Increases Ethanol Intake in Drosophila” deur Shohat-Ophir, K. R. Kaun, R. Azanchi en Ulrike Heberlein, in vandag se uitgawe van die joernaal Science.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar