Peugeot Boxer

Die aankoms van die Boxer was die begin van Peugeot se aanslag op die plaaslike paneelwamark.

Die Boxer is ’n voormalige Europese Paneelwa van die Jaar, en bly die spil waarom Peugeot se handelsvoertuigreeks wentel. Daar is ’n keuse van twee asafstande, asook gewone en hoë dak-weergawes, met ’n totaal van vyf paneelwamodelle, asook onderstel/kajuit-weergawes met kort- en lang asafstande.

HDI-turbodieselenjins van 2,2 en 3,0 liter onderskeidelik is beskikbaar. Die kleiner kragbron lewer 88 kW en 320 Nm, terwyl die drieliter-eenheid met ’n indrukwekkende 116 kW en 400 Nm spog.

Alle Boxers het hoogteverstelbare stuurkolomme en ’n bestuurdersitplek wat in vier rigtings verstel kan word. Die elektroniese instrumentehuisie sal in enige Peugeot-passasiermotor tuis wees, en die groot, duidelik leesbare instrumente lyk uiters gesofistikeerd.

Elke element van die kajuit se uitleg en ontwerp is omsigtelik benader met die klem op die gerief van die bestuurder. Onder die geriefkenmerke tel ’n skryfbord wat verwyder kan word, ’n A4-grootte bêrekompartement, ’n selfoonhouer, ’n asbak met sigaretaansteker, en ’n 12V-kragpunt. Daar is ook hope ekstra bêreplek in die deure.

’n Lugsak vir die bestuurder, sitplekgordels met voorspanners en ABS-remme met elektroniese noodrembystand is standaard op alle Boxer-modelle.

Maar laaigerief is die kernkonsep in dié segment, en die Boxer bied ’n laairuim wat 1 870 mm wyd is, met ’n minimumwydte van 1 422 mm tussen die wielboë.

Die dubbeldeure agter maak 1 522 mm wyd oop, en die laaidrumpel vir beide die skuifdeur aan die linkerkant van die voertuig en die agterdeure is net 535 mm hoog.

Die grootste Boxer-model kan ’n vrag van 15 kubieke meter met gemak insluk, en het ’n vragdravermoë van 1 900 kg. Selfs die kleinste lid van die Boxer-familie het ’n vragruim van 10 vierkante meter, en ’n vragdravermoë van 1 400 kg. Hierdie model kan boonop deur ’n bestuurder met ’n gewone motorlisensie bestuur word.

Die beskikbaarheid van onderstel/kajuit-weergawes (een met die 2,2-liter HDI-kragbron, en die ander met die 3.0 HDI-enjin) beteken dat sakelui ’n bakontwerp kan kies wat by hul spesifieke behoeftes pas. Dit sorg dat dié Boxer met ’n ware uitklophou spog!

Lewer kommentaar

Leave a Reply