Vir die eerste keer in meer as ‘n dekade het ‘n privaatspan die algehele Produksievoertuigkampioenskap in die Absa-Veldrenkampioenskap gewen.
Alhoewel hulle nie daarin kon slaag om die onlangse RFS Magalies 400, die laaste ronde van die kampioenskap, te voltooi nie, het die RFS Toyota Hilux-span, Chris Visser en Japie Badenhorst, beide die algehele en die voorste Klas SP-kampioenskappe opgeraap. Dit het ‘n einde gemaak aan ‘n lang string nasionale kampioenskapseges deur fabriekspanne.
Visser en Badenhorst, in die RFS Toyota Hilux, het drie oorwinings en twee tweede plekke aangeteken op hul pad om 25 punte voor die veterane, Hannes Grobler en Hennie ter Stege in die RFS BMW X3 te eindig. Grobler/Ter Stege het die seisoen in die RFS Toyota Hilux begin voordat hulle na die nuutgeboude BMW oorgeskakel het en die veldrengemeenskap verras het deur die Toyota Kalahari 1000-Woestynren te wen.
Duncan Vos en Rob Howie in die fabrieks-Castrol Toyota Hilux het derde in beide die algehele en Klas SP-kampioenskappe geëindig. Vos was die 2009-kampioen en saam met Howie het hulle ‘n enkele oorwinning deur die loop van die seisoen aangeteken.
Ander seges gedurende die seisoen het aan die voormalige SA-kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Team Ford Ranger TDCi) behoort asook aan Terence Marsh en Buks Carolin in die Regent Racing Nissan Navara en Anthony Taylor en Robin Houghton in die tweede Castrol Toyota-voertuig. Die Woolridge/Skjöldhammer-sege tydens die Toyota-handelaars 400 was die eerste in die Absa-reeks wat deur ‘n dieselaangedrewe voertuig aangeteken is.
Die Klas D-kampioenskap het aan Deon Venter en Ian Palmer in die 4×4 Mega World Toyota Hilux behoort. Dié paar het drie agtereenvolgende oorwinnings gedurende die laaste drie renne van die seisoen aangeteken en het voor die 2009-kampioene, Dewald van Breda en Johan du Toit in die Northam Toyota Hilux, geëindig.
Van Breda en Du Toit gaan volgende jaar in Klas SP deelneem. Klas D sal egter deur twee N1 4×4 Toyota Land Cruiser-inskrywings aangevul word wat in die hande van Cliff en Louis Weichelt sal wees.
Toyota het hul derde jaerstitel ingepalm toe Pikkie Labuschagne (4×4 Mega World Toyota Hilux) die kampioenskap voor die tiener, Lance Woolridge in die Team Ford Ranger opgeraap het. Woolridge het ‘n rugbesering tydens die Human Auto 400 opgedoen en aangesien hy nie aan die RFS Magalies 400 kon deelneem nie, het die voormalige kampioen, Manfred Schröder, vir hom ingestaan.
Die ervare Schröder en Ward Huxtable het ‘n gerieflike oorwinning aangeteken om aan Huxtable die navigatorstitel te besorg. Rikus Erasmus, wat die 4×4 Mega World Toyota Met Labuschagne deel, was tweede in die titelstryd.
Erasmus het die kampioenskapsbus weer gemis nadat hy en Labuschagne die 2009-titel met ’n enkele punt misgeloop het. Die derde plek in die kampioenskap het aan die Ruwacon Racing Ford Ranger-paar van Gerald Roux en Willem Pretorius gegaan.
Die gesogte SA Vervaardigerskampioenskap was ‘n eenrigtingstraat vir Toyota. Hulle het meer as 400 punte voor Ford geëindig met Nissan derde.
bydrae: Charmaine Fortune
