Die Toyota 1000-Woestynren hierdie naweek in Botswana het ’n rekord-aantal inskrywings uit die geledere van nasionale en streeksveldrendeelnemers gelok.
“Ons is hoogs in ons skik en die reaksie van nasionale sowel as streeksdeelnemers bewys net weer dat veldrenne baie gesond is,” het Richard Schilling, die president van die Motorsport SA-veldrenkommissie, gesê. “Iets wat veral ‘n riem onder die hart is, is die groot aantal inskrywings van streeksdeelnemers in wat stellig die strafste byeenkoms op die veldrenkalender is.
“Dit bewys dat die Toyota 1000-Woestynren nog niks van sy roem verloor het nie.”
Van die top-streeksjaers wat hulle ingeskryf het, is die verdedigende buisraammotor-voorloper Wolf-Peter Pfumfei in sy enkelsitplek-WP/VW en sy naaste teenstanders, Gustav Pienaar/MJ le Roux (VW Sandmaster) en die gewese veelvuldige Suid-Afrikaanse kampioen-veteraan Giel Nel en Deon de Kock (Zarco Magnum) wat tot vanjaar se seisoen nog gereelde deelnemers aan die nasionale reeks was.
Van die produksievoertuig-inskrywings is die naasvoorlopers Hennie Lemmer en Dawie Langer (Toyota Hilux) en Chris en Anneline van Jaarsveld in hul Ford Ranger. Die kampioenskapsvoorlopers Rob Reid en Bodo Schwegler het besluit om dié keer uit te sit…
’n Interessante inskrywing is dié van die Parys/Dakar-uithouveldtydren-vierwielmotorfietsheld Vicus van Deventer en Michiel le Roux in die gewese JoJo Tanks-VW Beetle 4×4. Die motor word deur ’n turbo-aangejaagde Volvo-enjin aangedryf en was jare gelede ’n groot gunsteling onder toeskouers.
Die byeenkoms sal soos altyd baie toeskouervriendelik wees en pronk met 14 aangewese toeskouerpunte oral langs die roete. Die maklikste om daarby uit te kom, is om die GPS-ruitverwysings te volg, wat by die renhoofkwartier by Game City in Gaborone beskikbaar is.
Die ren begin Vrydag 19 Junie om 13:00 en die uitslag van dié dag se voorren word gebruik om die wegspringposisies vir die hoofren te bepaal. Die ren self begin Saterdagoggend om 8:00 en eindig Sondagmiddag weer by diékompleks in Gaborone.
bydrae: Charmaine Fortune
