Die voormalige kampioene, Hannes Grobler en Hennie ter Stege, het die algehele voortou in die Produksievoertuigkategorie na twee byeenkomste van die Absa-Veldrenkampioenskap geneem.
Grobler en Ter Stege in die RFS Toyota Hilux is een van net twee spanne in Klas SP wat beide die Adenco 400 en die onlangse Toyota-handelaars 400 kon voltooi. ‘n Derde plek in die Wes-Kaap en ‘n tweede in Mpumalanga het aan Grobler en Ter Stege ‘n negepunt-voorsprong bo-aan die algehele puntestand gegee.
Twee spanne deel ook die derde plek met Gary Bertholdt/André Vermeulen (Atlas Copco-Toyota Hilux) en die Vrystaat-paar, Louw de Bruin en Riaan Greyling in die Ruwacon-Ford Ranger wat gelykop is. De Bruin en Greyling is die enigste ander Klas SP-span wat beide renne kon voltooi.
Die huidige jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie in die Team Castrol-Toyota Hilux is vierde op die algehele punteleer. Agter hulle deel Anthony Taylor en Robin Houghton in die tweede Castrol-Toyota-inskrywing en die man- en vrou-span van Ramon en Maret Bezuidenhout in die Red Star Raceway-Toyota Hilux die vyfde plek.
Die prentjie in Klas SP lyk effens anders omrede die algehele puntetoekenning verskil van die klaspunte. Hier is Grobler/Ter Stege steeds voor Visser/Badenhorst en Woolridge/Skjöldhammer, maar De Bruyn/Greyling beweeg op hul eie na die derde plek met Bertholdt/Vermeulen en Vos/Howie wat onderskeidelik vierde en vyfde is.
Daar is nuwe voertuie in die Klas Super D-pyplyn en geen span het in dié kategorie vir die Toyota-handelaars 400 ingeskryf nie. Dewald van Breda/Johann du Toit (Northam Toyota D4D) is voor in die kampioenskap ná ‘n sege tydens die Adenco 400.
Daar is ook ‘n gelykopspel in Klas E. Die Adenco 400-wenners, Gerald le Roux/Willem Pretorius (Ruwacon-Ford Ranger) en die Toyota-handelaars 400-wenners, Lance Woolridge en Ward Huxtable (Ford Racing Ranger) deel die boonste posisie.
Die Toyota-handelaar-sege was Woolridge, die seun van die voormalige SA-kampioen, Neil, se eerste nasionale sege.
Die volgende byeenkoms op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender is die Sugarbelt 400 wat op 21 en 22 Mei in KwaZulu-Natal plaasvind.
bydrae: Charmaine Fortune
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
