Klas P-span neem voortou

Vir die eerste keer sedert die bekendstelling van dié kategorie ‘n jaar gelede is ‘n Klas P-span die algehele voorlopers in die Spesiale Voertuigafdeling van die Absa-Veldrenkampioenskap.

‘n Geskiedkundige algehele oorwinning tydens die onlangse Toyota-handelaars 400 en ‘n vyfde plek tydens die Adenco 400 het aan die KEC BAT-span ‘n voorsprong van 11 punte bo-aan die kampioenskap gegee. Die Pretoria-gebaseerde span se sege tydens die Toyota-byeenkoms was die eerste sege vir ‘n Klas P-span in die Absa-reeks.

‘n Oorwinning tydens die Adenco 400 in die Wes-Kaap hou die voormalige kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Team Total Porter) in die tweede plek in die algehele kampioenskap. Hulle het ‘n voorsprong van ‘n enkele punt bo die pa- en seun-span van Herman en Wichard Sullwald (Sullwald Racing-SVR) in ‘n voertuig wat, ironies genoeg, deur Variawa Racing gebou is.

Vierde op die algehele telbord is Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing-BAT) met betroubaarheidsprobleme wat dié paar weer in Mpumalanga gekniehalter het. ‘n Tweede Klas P-span se naam verskyn ook in die top vyf en twee bestendige resultate plaas Archie Rutherford en Craig Doubtfire (Regent Racing-Jimco) slegs ‘n enkele punt agter Matthews en Smith.

Verskillende puntestelsels in veldrenne sorg dat die prentjie effens anders in Klas A daarna uitsien. Hier is die Sullwalds voor Variawa/Rousseau en Brandon Harcus wat, ná twee stelle resultate in die JMR Fleet Management-BAT, gelyk met Variawa op die jaerspunteleer is.

Twee renresultate het die Limpopo-span, Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya (Maxxis-Jimco) tot die derde plek voor Matthews/Smith en Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT geneem. Die huidige kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann (Motorite-BAT) en Jimmy Zahos/Stefan Coetzee (Cobalt Racing-Porter) is gelyk vierde.

Die huidige kampioen, Derick du Toit (Orange Tree-BAT) is bo-aan die Klas B-jaerspuntestand ná ‘n sege tydens die Adenco 400, maar hy kon nie die Toyota-byeenkoms voltooi nie. Marius Nicholson (Orange Tree-Sandmaster) en die Toyota-handelaars 400-wenner, Hamish Stubbs (Stafix-Viper) deel die tweede plek tussen die jaers.

Adre Rheeder, wat langs Du Toit tydens die Adenco 400 gesit het, is voor in die navigatorsren en is voor Rod Jeffrey en Alistair Stubbs. Jeffrey het vir Nicholson tydens die Adenco 400 genavigeer en vir Du Toit tydens die Toyota-byeenkoms.

Bo-aan Klas P het die Van Staden/Rossouw-kombinasie ‘n handige voorsprong van 11 punte vroeg in die seisoen. Tweede is Rutherford en Doubtfire met die voormalige kampioene, Richard Schilling en Chris Davies in die derde plek.

Die Sugarbelt 400 wat op 21 en 22 Mei in KwaZulu-Natal plaasvind, is volgende op die kalender. Dié byeenkoms sal weer by die Beaumont Eston-Boereklub op die buitewyke van Pietermaritzburg gebaseer wees.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply