SA vrou blink uit agter stuur

Twee vroue in ‘n Suzuki Grand Vitara het onlangs die eerste vrouespan geword om die eindpunt van die moordende 2008 Transsiberië-maratontydren oor ‘n afstand van 7 200 km te voltooi. En agter die stuur van die moedige Grand Vitara was ‘n Suid-Afrikaanse paramedikus met geen motorsportervaring nie.

Melina Frey (26) woon en werk in Kaapstad en het saam met haar Duitse spanmaat, Alexandra Hahn, die eerste vrouespan geword om die 2008-maratontydren te voltooi. Dít na twee weke van uitdagings oor ‘n moeilike roete tussen Moskou en die Mongoolse hoofstad, Ulan Bator. Die dames het boonop tweede klaargemaak in Klas 2A vir 4×4-voertuie met dieselenjins van tot 3,0 liter. Hulle was net agter hul Suzuki Europa-spanmaats, Andreas Kramer en Kurt Ettenberger, wat in ‘n identiese driedeur-Suzuki Vitara DDiS deelgeneem het.

Die tydrenreëls laat net minimale veranderinge aan die voertuie toe, wat beteken dat die Suzuki Vitaras bykans standaard was.

Wat die algehele uitslag betref het die Suzuki-meisies in die 14e plek klaargemaak, net twee plekke agter die Kramer/Ettenberger Suzuki Grand Vitara in die 12e posisie. Die tydren is gewen deur Christian Lavielle en Francois Borsotto agter die stuur van ‘n Franse Porsche Cayenne SE Transsyberia.

Net 23 van die oorspronklike 34 deelnemers kon die strawwe maratonren voltooi. Die formaat toets nie net bestuurvernuf en navigasie nie, maar stel ook inisiatief en voertuigkennis op die proef. Daar word van openbare paaie gebruik gemaak, en daarom word heelwat klem op noukeurige bestuur en 4×4-vermoë geplaas.

Alexandra Hahn en Melina Frey
Alexandra Hahn en Melina Frey
Frey, ‘n gebore Suid-Afrikaner van Duitse herkoms, is ‘n gekwalifiseerde paramedikus en persoonlike lyfwag wat ook voornemende lyfwagte in die ongewone kuns van persoonlike beskerming oplei. Saam met Hahn, wat die navigasie behartig het, het die twee nuwelinge die uitdaging om teen baie meer ervare spanne, onder wie verskeie beroepsjaers, mee te ding, met albei hande aangegryp. Boonop moes die Grand Vitaras ook strawwe kompetisie verduur.

Met 26 van die 34 deelnemers agter die stuur van Porsche se kragtige, spesiaal toegeruste Cayenne S Transsyberia-veelterreinvoertuig, het dit gelyk asof die Suzukis sleg daaraan toe sou wees.

Buiten die baie kragtiger en vinniger Porsches, was daar ook ander voertuie soos Land Rover Defenders, ‘n Toyota Land Cruiser, ‘n Nissan Pathfinder, ‘n Mitsubishi Pajero en ‘n Mercedes-Benz G-klas om mee rekening te hou. Na 14 dae se maratonjaag, met spesiale take en moeilike navigasie, het die Suzuki Grand Vitara-spanmaats hul staal getoon deur van die vinnigste voertuie en mees ervare spanne uit te stof.

“Dit was opwindend, spannend, uitdagend en grotendeels wonderlik,” het Frey by die eindpunt gesê. “Mongolië en sy mense is eenvoudig fantasties. Dit was groot pret om die Grand Vitara te bestuur. Trouens, dit was ‘n besondere ervaring.”

Wat Frey se vertoning so indrukwekkend maak is dat sy so te sê geen ervaring van motorsport het nie. Sy het nog noot vantevore aan ‘n maratontydren deelgeneem nie, hoewel sy ‘n veldrygeesdriftige is.

“Ek het probeer om soveel tyd moontlik in die bos agter die stuur van ons gesin se 4×4-voertuig deur te bring voor ek vertrek het om aan die tydren deel te neem, en ek het ook geoefen om moeilike hindernisse baas te raak. Maar niks kon my voorberei vir die uitdagings van die byeenkoms nie. Dit was verstommend.”

Frey skryf haar goeie vertoning toe aan haar agtergrond in die mediese nooddiens en haar betrokkenheid by die persoonlike veiligheidsbedryf.

“Ek is gewoond daaraan om onder uiterste toestande te werk, waar om op te gee eenvoudig nie ‘n opsie is nie. Ek het ‘n kanniedood-benadering wat vir my ‘n lewenswyse geword het. Ja, ons was onervare, maar ons het alles in die stryd gewerp – en dit maak hierdie uitslag so bevredigend.”

Dominik Eiland, groepleier vir produkte en handelaarbemarking by Suzuki Internasionaal Europa, sê die Grand Vitaras het in van die moeilikste toestande in die hele tydren die heel beste gevaar.

“Terwyl een derde van die aanvanklike getal deelnemers nie die tydren kon voltooi nie, het ons Grand Vitaras nie net Ulan Bator bereik nie, maar ook in die Mongoolse sneldele onder die voorste 10 geëindig. Die toestande in dié sneldele word as van die strafste in die tydren bestempel. “Dit is ‘n ware pluimpie vir die geharde duursaamheid van die Grand Vitara, en ‘n gepaste manier om die Grand Vitara se 20ste verjaardag te vier,” het hy bygevoeg.

Suzuki Auto SA stel die jongste-geslag Grand Vitara hierdie maand (September 2008) in Suid-Afrika bekend

Lewer kommentaar

Leave a Reply