Sake verloop vlot vir Highveld 400

Met die roete wat amper gefinaliseer is, is dit duime omhoog vir die Highveld 400, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 28 en 29 Augustus by Carnival City plaasvind.

Die rendirekteur, Adri Roets, en sy span is besig met die finale afrondingswerk aan die roete en al die ander aspekte om die ren te organiseer is reeds in die finale stadiums. Die Highveld 400 vervang die Limpopo 400 op vanjaar se Absa-kalender.

“Ons is besig met die laaste afronding aan die roete en dit gaan interessant en uitdagend wees,” het Roets gesê. “Ons het nie probeer om die wiel van vooraf te ontwerp nie en die roete bestaan uit gedeeltes wat voorheen vir die Carnival City 400-byeenkomste gebruik is.

“Ons het een van die roetes van ‘n vorige byeenkoms as ons ‘rolmodel’ gekies en het dit met gedeeltes van ander Carnival City 400-renne geïnkorporeer. Die eindresultaat is ‘n roete wat taai gaan wees en goeie resultate gaan nie in die spanne se skote val nie.”

Roets het bygevoeg dat die weer moontlik die grootste rol in die verskil tussen die Highveld 400 en die vorige Carnival City 400-renne sal speel. Carnical City-renne het ‘n reputasie gehad dat dit die reën bring met ‘n roete wat verskeie kere in ‘n moeras verander het.

“Mens kan nie die weer manupileer nie,” het Roets gesê, “maar behalwe vir buiteseisoenreën, sal dit ‘n droë en stowwerige ren wees.”

Roets het bygevoeg dat die roete ook toeskouervriendelik sal wees. Toeskouerpunte wat maklik toeganklik is, het ‘n kenmerk van die Absa-Veldrenkampioenskapbyeenkomste geword en die Highveld 400 sal nie ‘n uitsondering wees nie.

“Al die toeskouerpunte is binne maklike bereik van die renhoofkantoor by Carnival City,” het Roets gesê. “Die begin en einde asook die aangewese dienspunt sal ook by die renhoofkantoor wees.”

Die Highveld 400 sal ook ‘n ronde van die Noordelike Streeksveldrenvoertuigkampioenskap vorm asook ‘n ronde van die Noordwes-Uitdaging. Daar word verwag dat die byeenkoms in die voetspore van die afgelope Sun City 400 sal volg en meer as 100 inskrywings in die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë sal ontvang.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply