‘n Dawerende gejuig en ander prettighede

Daar is groot konserte, groot kanonne en in die algemeen ‘n gedawer met ‘n stewige musiekprogram wat by die twaalfde Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied word.

Met David Kramer wat vanjaar glad nie sy weg na Gauteng gaan vind nie, moet dese en gene beslis kennis neem van die eenmalige vertoning van David Kramer – Hemel & aarde wat net by Aardklop in Potchefstroom te sien gaan wees. Nataniël skuif ook sy feesvrees opsy deur vir die eerste keer in agt jaar ‘n draai te kom maak – ook net vir een enkele vertoning.

Daar word ses groot stadionkonserte aangebied: Country-legendes en vriende met al die ou bekendes en ‘n paar nuwelinge; die Trippeltoer met Theuns Jordaan, Bok van Blerk en Dozi; die Gatskopkonsert waarin Steve Hofmeyr en Karen Zoid as hoofkunstenaars die kitaar slaan; Medumo Jazz Fountain is ‘n moet-sien vir jazzliefhebbers; OppiAarde spog oudergewoonte met die jongste, opwindende rockbands in Suid-Afrika; en by die Vodacom Vinyl Sessions wys die beste DJ’s wat in hulle steek.

Van die kunstenaars wat konserte gaan aanbied, is Amanda Strydom wat hulde bring aan haar mentor Hennie Aucamp, André Schwartz, Blackie Swart, Chris Chameleon met sy splinternuwe vertoning Voilà!, Coenie de Villiers, Cutt Glas (met bestaande en van die vorige lede), Dozi en Nianell met It Takes Two waarin hulle bekende duette sing, Flip a Coin, Herman van den Berg, Laurinda Hofmeyr, Mathys Roets en Navi Redd.

Sommige van die kunstenaars span saam vir ‘n andersoortige ervaring: Die laaste reis van Geerhardt van der Lende is ‘n nuwe musiekteaterproduksie met Jannie du Toit, André-Jacques van der Merwe, Marjorié Stoffberg en Christa Steyn; Musiek 3 en Plessié met PG du Plessis, Ollie Viljoen, Alexa Strachan en Pietman Geldenhuys bou voort op verlede jaar se sukses van Klets, klawers en kitaar; Rapport-musiekmaestro’s met Jannie Moolman, Lize Beekman, Brandon October en Jak de Priester is ‘n opwindende mengsel van die eietydse en die meer klassieke; en Ses Snare met Mathys Roets, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter, Leon Ecroignard en Thean Kotze bring hulde aan groot geeste soos Bob Dylan, Pink Floyd, Eric Clapton en Sting.

Jonger gehore moet beslis nader staan vir 2 – 21 waarin Francois van Coke, Peach en Anneke Weideman eiesoortige woord- en klanktaferele skep, terwyl Van Coke Kartel en Yesterday’s Pupil as gaskunstenaars sal optree. En om te sien hoe splinternuwe talent lyk, moet nie Rockspaaider misloop nie – die Noordelike finaal van MK en JIP se realiteitsreeks vir hoërskoolbands.

Aardklop word van 29 September tot 3 Oktober in Potchefstroom aangebied. Besprekings open landwyd op 23 Julie by Computicket. Vir inligting oor verblyf, kontak 018 294 7508 of besoek die webwerf by www.aardklop.co.za vir algemene inligting en meer besonderhede oor die program.

Lewer kommentaar

Leave a Reply