Siessa!

Vanoggend op die trein … was ek so bitter bly dat dieselfde persoon wat gistermiddag sy karkas tussen die twee kommerwekkende dik (ek sien kardiovaskulêre komplikasies in hul nabye toekoms) passasiers oorkant my ingewikkel het, nie weer ‘n wa met my deel nie. Dis is mos maar so dat ‘n mens net makliker braak soggens as op ander tye van die dag.

Skaars het ons by Soutrivier-stasie ingetrek, of die oom haal ‘n pakkie generiese oorstokkies uit sy baadjie se bosak. Ek het hard probeer hoop dat hy bloot sy selfoon se sleutelbord daarmee wil skoonmaak, maar soos dit mos maar met hoop gaan, het dit beskaam, en hy druk dit waaragtig in sy regteroor waar hy dit tussen duim en voorvinger rol en rol en rol. Ek wou toe reeds nie meer kyk nie, maar die pre-orgasmiese uitdrukking in sy starende oë het my laat besef dat dinge nog leliker kan raak en dis dalk beter as ek ‘n oog op die ontwikkeling van sake hou. Toe hy dit (menende die wattestokkie) uithaal, het ek hardop dank betuig, ‘n premature gebaar, het dit sekondes later geblyk, toe hy behaaglik aan die vuilgeel punt van die stokkie agter sy gebakte linkerhand ruik.

Die trein was vol. Die vensters wou nie oop nie en daar het mense voor die deure gestaan, maar in ‘n oomblik van klaarheid het Caramella besef: hier moet ek uit, want het ‘n oorstokkie nie twee kante nie en het die Liewen Heer ons dan nie paslikerwys met twee oorgate geskape nie?

Toe die trein van kant na kant skommel soos dit oor die spoorverwisselings strompel, het ek gewonder of dit verkeerd is om te bid dat hy sy trommelvlies perforeer. Ek het egter die rol van ervaring in die kuns van oorkrappery onderskat en sonder die geringste teken dat hy van stryk gebring is deur die onvoorspelbare bewegings van die trein, word die stok-des-aanstoots met meesterlike tydsberekening uit die oorkanaal verwyder en bekyk om net oomblikke later die proses aan die teenoorgestelde kant te hervat.

oorstokkie
oorstokkie

Gelukkig was ek teen daardie tyd so gepreokkupeer met die taak op hande, naamlik om nie siek te word op myself en op die ander ses mense wat die bankie met my deel nie, dat ek nie verder gesondig het nie. Ek kon dus 20 minute later met my siel (if only that) intakt op Oosterzee-stasie uit die trein val met die vaste voorneme om in die toekoms ‘n bottel sterk drank ten alle tye byderhand te hou.

“Siessa!” is nou in orde.

(oorspronklik verskyn 17 Maart 2012)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Soutrivierstasie en Oosterseestasie is nie op dieselfde lyn nie, oulike storie, maar kry net jy feite reg asb

Lewer kommentaar

Leave a Reply