Silwermyndam rolstoel-vriendelik

Gestremdes kan nou die natuurskoon van die Silwermyndam geniet, danksy die ingebruikneming van ´n nuwe loopgang deur die Kaapse Skiereiland Nasionale Park (KSNP).

Die verhewe hout-loopgang is 650 meter lank en volg die gewilde staproete om die dam. Dit bedien verskeie piekniek- en braaiplekke.

“Dit is een van die mooiste prestasies van die Kaapse Skiereiland Nasionale Park en ´n paslike vyfde verjaardagviering,” sê Maxwell Moss, rolstoel-gebonde lid van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Omgewingsake en Toerisme. Moss het vandag (4 September 2003) die loopgang amptelik geopen.

“Met sy bevordering van toegang tot ons nasionale omgewingskatte het SA Nasionale Parke ´n skitterende voorbeeld vir ander toerismeplekke gestel. Besoekers met beperkte mobiliteit deel nou die genieting van Silwermyn, wat as een van die mooiste fynbosparadyse van die Kaapse planteryk beskou word,” sê Moss.

Volgens Gavin Bell, gebiedsbestuurder vir die suidelike deel van die KSNP, is bykans 900 soorte fynbos opgeteken by Silwermyn, insluitend talle soorte proteas, ericas en restios.

“Heelparty van hierdie plante is skaars en bedreig en party kom nêrens elders in die wêreld voor nie,” sê Bell.

Onder uitsonderlike voorbeelde van die proteafamilie tel die kreupelboom, Mimetes hirtus, die waboom, Protea nitida, die koningsprotea, Protea cynaroides, en die kreupelhout, Leucospernum conocarpodendron.

“Sedert die brand van Januarie 2000 het die Park se volgehoue poging om uitheemse plantegroei uit Silwermyn te verwyder, toegelaat dat die natuurlike bio-verskeidenheid in al sy glorie terugkeer – ´n wonderlike beloning vir almal wat so hard daaraan gewerk het,” sê Sandy Barnes, voorsitter van die Vriende van Silwermyn.

Met sy pragtige natuurskoon en groot verskeidenheid aan buitelug-ontspanning lok Silwermyn jaarliks gemiddeld 53 000 plaaslike en buitelandse besoekers.

Die gebied, met sy kolle inheemse woud soos Spes Bona en die Eggovallei, bied ´n tuiste aan grysbokke, rooikatte, bobbejane, dassies, ystervarke, muskejaatkatte, skilpaaie en die groototter, asook reptiele, insekte en amfibieë.

Voëls sluit in die oranjebors-suikerbekkie, jangroentjie, Kaapse suikervoël, kransvalk, woue, jakkalsvoëls, swerfvalk, visarend en soms selfs die witkruisarend.

“Ná die wegholbrande van drie jaar gelede het Silwermyn mooier as ooit tevore uit die puin herrys,” sê Brett Myrdal, parkbestuurder van die KSNP.

“Die Silwermyn-loopgang ontsluit hierdie uitsonderlike plek vir selfs meer mense en is deel van ons voorneme om die park waarlik en vir altyd ´n park vir almal te maak,” sê Myrdal.

Die KSNP se eerste loopgang by Boulders het onlangs eervolle vermelding gekry toe die Rob Filmer-prys vir die daarstel van toegang vir gestremdes aan SA Nasionale Parke toegeken is.

Die hout-loopgang is gebou deur Michael Andrews van Lotusrivier en Wandile Mtshiza van Masiphumelele, wat ook die Silwermyn-rivierpaadjie en die omgewings-vriendelike uitkykvlakke by Olifantsbos en die Buffelsbaai-besoekersentrum onderskeidelik in die Kaap die Goeie Hoop-deel van die park gebou het.

Volgens Myrdal skep die KSNP met die bou van voetpaaie en loopgange honderde geleenthede vir ontluikende kontrakteurs.

“Ons is regtig beïndruk deur die opknapping, die herstel van paadjies en die nuwe aanwysers by Silwermyn,” sê Anwaaz Bent, koördineerder van die voetslaners-netwerk.

Lewer kommentaar

Leave a Reply