Gé Korsten se tragiese dood het as ‘n groot skok gekom – nie net vir sy duisende Afrikaanssprekende bewonderaars nie, maar, interessant genoeg, ook vir ‘n groot groep van die Engelsprekende deel van die bevolking. In huldigingsprogramme daarna op radio en TV het mens weer onder die indruk gekom van die stemkwaliteit, sjarme, intelligensie en aantreklike voorkoms wat hom ‘n wêreldster sou kon gemaak het.
Gé het egter verkies om in Suid-Afrika te bly ter wille van sy gesin en sy sakebelange, en hoewel het verskeie toekennings ontvang het vir sy talle opera-optredes, was daar mense wat effens op hom neergesien het omdat hy besluit het om meer populêre liedjies ook te sing. Maar daardeur het hy sy bewonderaars ook na die opera getrek – soveel so dat sy mede-kunstenaars verstom gestaan het oor die heldeverering van veral jong meisies, wat hom skreeuend toegejuig en selfs agtervolg het. So iets het nooit voorheen (en ook nie sedertdien!) in die Suid-Afrikaanse operawêreld gebeur nie.
Ligte musiek-kunstenaars kom en gaan en daar’s min wat soos Gé, meer as drie dekades lank, lojale ondersteuners behou. Sy talle toekennings getuig daarvan – onder meer ses Sarie’s en selfs ‘n Europese Midem-toekenning vir plateverkope. Maar hy het ook naam gemaak as televisie-aanbieder (waarvoor hy ‘n Artes gekry het), as akteur in Egoli en as rolprentster in Hoor my lied, (wat vir baie jare rekord bywoningsyfers gehad het) Lied in my hart, A new life en Lokval in Venesië.
Scorpio Music het kort na Gé se dood ‘n unieke herdenkingsalbum die lig laat sien. Dit bevat immergroen treffers soos “Seeman”, “Jerusalem”, “Hear my song”, “Erika”, “Hier is ‘n mens” en “Reën”. Maar saam met die album is daar ook ‘n unieke herdenkingsboekie, wat afgesien van pragtige foto’s, ‘n opsomming van Gé se lewe en prestasies bevat.