Soms voel dit vir my asof alles wat lekker is, gevaar inhou: Vreet te veel en jou hart val jou aan; van seks sonder sokkies kry mens vigs; Engelse tee gee vlooie in die pens en met vuurhoutjies speel laat jou piepie in die kooi.
So is dit dan nou ook met haarsalon toe gaan. Nooit weer sal ek sorgeloos, slap, oopbek en kwylend kan sit terwyl die kinders wat vir ‘n hele jaar leer hoe om hare te was, die voue van my brein masseer nie, want buig hulle dalk my nek nét te ver, vir nét te lank agteroor, kwyl ek moontlik teen wil en dank tot in lengte van my dae terwyl wrewelrige oppassers papgedrukte pampoen by my skewe mond inforseer.
Skoonheidsalonsindroom is in die jare negentig geïdentifiseer by persone wat beroerte gekry het na ‘n besoek aan die haarsalon. Blykbaar kan ‘n agteroorgebuigde nek lei tot ‘n skeur in die verebrale of karotiede slagare van gepredisponeerde persone, met gevolglike bloeding en moontlike beroerte. Die risiko hiervoor is glo klein, maar so is die kans dat ‘n sesvoetmens in die inspeksiegat van ‘n stormwatersloot langs Frans Conradie-rylaan in Bellville kan val, en dit het al met my gebeur.

