Spanne staar strawwe kampioenskap in die gesig

Die veldrengemeenskap is oorgehaal vir nóg naelbyt-titelkwessies in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë wanneer vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap op 20 en 21 Maart in die Wes-Kaap afskop.

Die Wes-Kaap 400, wat deur die Kaapse Skiereiland Motorfiets- en Motorklub (CPMCC) georganiseer word, sal weer eens in die Darling-omgewing aangebied word. Tydens dié byeenkoms sal die eerste salvo afgevuur word in ‘n uitputtingstryd wat moontlik in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë kan ontstaan.
Die afgelope paar jaar is beide die algehele en die onderskeie klaskampioenskappe tee die einde van die seisoen bepaal. Laas seisoen is die algehele kampioenskaptitels in beide die Produksie- en Spesialevoertuigkategorieë tydens die laaste byeenkoms beslis.

“Al die tekens is daar dat dit nie vanjaar enigsins anders gaan wees nie,” het die President van Motorsport SA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, gesê. “Ons plaaslike reeks is een van die mees mededingendste kampioenskappe van sy soort in wêreldmotorsport.

“Die oorheersing van die top vyf posisies tydens die Dakar-ren deur spanne met sterk verbintenisse tot die Absa-Veldrenkampioenskap is ‘n bewys hiervan.”
Schilling het bygevoeg dat bestendige groei in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë in die premier Klas SP- en Klas A-kampioenskappe ‘n aanduiding van die gesonde toestand van Suid-Afrikaanse veldrenne is. Daar word verwag dat tot 21 voertuie dié seisoen in Klas SP gaan deelneem met dieselfde getalle in Klas A.

“In beide kampioenskappe is daar ‘n halfdosyn of meer moontlike wedrenwenners,” het Schilling bygevoeg. “Dit is ‘n gesonde stand van sake en sal lei tot wipplankrenne regdeur die seisoen.”

Die hooforganiseerder van die Wes-kaap 400, Bill Bright, het gesê dat voorbereidings vir die byeenkoms op 20 en 21 Maart reeds goed vorder. Hy het bygevoeg dat deelnemers kan uitsien na ‘n strawwe opening tot die seisoen.

“In vorige seisoene het ons roetes gehad wat taai was, maar steeds redelik,” het Bright gesê. “Vanjaar sal nie enigsins anders wees nie en spanne sal vir hul resultate moet werk.

“Die roete sal weer eens iets van alles inkorporeer en ons kyk ook daarna om sommige gedeeltes in te sluit wat nuut sal wees.”

skrywer: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply