Spesiale voertuigkampioenskap afgehandel

Met die Spesiale Voertuigkategoriekampioenskapkwessie wat nou afgehandel is, sal die belangstelling vir die laaste twee byeenkomste van die seisoen verskuif na die naelbytstryd wat om die tweede en derde plekke heers.

Tydens die onlangse Highveld 400 by Carnival City plaasgevind het, het Evan Hutchison en Achim Bergmann in die Motorite-Revo1 hul tweede Suid-Afrikaanse kampioenskap ingepalm. ‘n Derde plek agter die verrassingswenners, Gerhard du Plessis en Ferdi Seegers (Jimco) en Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total-Porter) was genoeg om aan Hutchison en Bergmann ‘n voorsprong in die kampioenskap te gee wat nie geklop kan word nie.

Agter die nuutgekroonde kampioene is drie spanne egter ‘n stryd om die tweede en derde plekke gewikkel. Net vyf punte skei Variawa en Rousseau en die pa- en seun-paar van Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT.

Mike Whitehouse en Matthew Carlson in die Regent Racing-BAT is ook in die prentjie. Hulle is 16 punte agter die Harpers, maar met die Toyota-handelaars 400 in Mpumalanga en die RFS 400 in Magalies wat nog op die agenda is, kan enige van dié drie spanne as opvolgers eindig.

Daar is egter een faktor wat aan Variawa en Rousseau ‘n effense voorsprong gee. Die Harpers en Whitehouse/Carlson tesame met die Limpopo-span, Naeem Moosajee en Mohammed Moultson (Tyre Rack-Jimco) het almal ‘n 100 persent-klaarmaakrekord tot dusver dié seisoen en hulle moet nog van ‘n resultaat ontslae raak.

Variawa en Roussesau, wat die Toyota 1000-Woestynren gewen het, asook die Harpers en Whitehouse/Carlson het almal gereeld in die top vyf klaargemaak. Dit dra als daartoe by dat die seisoen op ‘n interessante einde afspeel en al drie spanne sal desperaat wees om goeie resultate tydens die Toyota-handelaars 400, wat op 2 en 3 Oktober in Mpumalanga plaasvind, aan te teken.

‘n Derde agtereenvolgende oorwinning tydens die Highveld 400 het aan die Kaapse span, Derrick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree-BAT ‘n stewige houvas op Klas B gegee. Hulle is nou 33 punte voor die bestendige Keith en Andrew Makenete in ‘n Zarco.

In die enigste groot verandering in Klas B het ‘n vierde plek by Carnival City Simon Beckett tot die derde plek voor Bez Bezuidenhout in die jaerskampioenskap laat opskuif. Nadat hulle die openingsronde van die seisoen gewen het, het Bezuidenhout en sy seun, Deon, in die Adenco-BAT verskeie teleurstellings ondervind.

Daar was ook nie goeie resultate vir die broers, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) in Klas P nie en hulle het die voorloperposisie aan nóg ‘n paar broers, David en Gary White in die Ruwacon-BAT afgestaan. Terwyl die Bezuidenhouts drie agtereenvolgende renne nie kon voltooi nie, het die Whites twee van die laaste drie byeenkomste gewen en hulle beskik nou oor ‘n 12 punt-kussing bo-aan die telbord.

Die KwaZulu-Natal-jaer, Don Thompson, het ‘n bestendige tweede plek tydens die Highveld 400 opgeraap en is nou derde in die jaerskampioenskap. James Rossouw, wat kragte met Johan van Staden in die KEC-BAT saamgespan het, is steeds derde tussen die navigators ten spyte daarvan dat hulle drie agtereenvolgende renne nie kon voltooi nie.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply