Die Donaldson-Nissan-span mag wel die stryd verloor het, maar hulle het die oorlog tydens die onlangse Highveld 400, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat by Carnival City plaasgevind het, gewen.
Die gunstelinge vóór die ren, Duncan Vos en Ralph Pitchford in een van drie Donaldson-Nissan Navaras, het in die agtste plek huis toe gehink en was sesde in die topklas, Klas SP. Dit was egter genoeg vir Vos, wat die Produksievoertuigkampioenskap vir die tweede agtereenvolgende jaar ingepalm het, en Pitchford.
Met twee byeenkomste nog op die kalender oor – die Toyota-handelaars 400 en die RFS 400 in Magaliesberg – sal die fokus nou na die taai stryd om die tweede plek skuif. ‘n Enkele punt skei Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco-Toyota Hilux en Ivar Tollefsen en Quin Evans in die tweede Donaldson-Nissan Navara.
Die Atlas Copco-span het geskiedenis tydens die Highveld 400 gemaak deur die eerste Klas SP-privaatspan te word om ‘n nasionale byeenkoms te wen. In die proses het hulle die string van vyf agtereenvolgende oorwinnings van die Donaldson-Nissan-span gebreek.
Tollefsen en Evans het ‘n dapper vierde plek by Carnival City behaal om waardevolle punte in te samel. Dié paar het teruggeveg ná ‘n teleurstellende voorren en het ook oorverhittingsprobleme tydens die ren oorkom.
Die veterane, Hannes Grobler en Juan Möhrm, die huidige navigatorskampioen, sal ook deel van die opvolgerstryd uitmaak. Hulle was verplig om die handdoek tydens die Highveld 400 in te gooi, maar is net 16 punte agter Tollefsen en Evans.
Die Highveld 400 het ook ‘n verandering in die Klas D-puntestand teweeggebring. ‘n Tweede plek in dié klas was genoeg vir die Potchefstroom-paar, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam-Toyota Hilux D4D) om die boonste posisie in die kampioenskap in te neem.
Van Breda is nou twee punte voor Cliff Weichelt (N1 4×4-Toyota Hilux D4D). Nadat hulle die seisoen op ‘n hoë noot met drie agtereenvolgende seges afgeskop het, kon Weichelt drie agtereenvolgende renne nie voltooi nie en dit het sy voorloperposisie skade berokken.
Nissan het hul tweede agtereenvolgende Klas D-sege aangeteken toe Coetzee Labuscagne en Johan Gerber met die louere in die Raysonics-Nissan Hardbody weggestap het. In teenstelling met Weichelt kon die Raysonics-span vier renne in ‘n ry nie voltooi nie en het hulle met twee agtereenvolgende seges teruggeveg.
Met ‘n vyfde plek by Carnival City het Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux die boonste posisie in die Klas E-kampioenskap behou. Daar gaan egter ‘n hewige stryd tydens die laaste twee byeenkomste woed.
Hul eerste oorwinning van die seisoen by Carnival City het die huidige kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux (RFS-Toyota Hilux) tot die tweede plek laat opskuif – net ses punte agter Labuschagne en Erasmus. Die vroeëre kampioenskapvoorlopers, Deon Venter en Ian Palmer in die tweede 4×4 Megaworld-Toyota Hilux, was tweede tydens die Highveld 400 en is net twee punte agter Visser en Le Roux.
Die Toyota-handelaars 400 is volgende op die agenda en vind op 2 en 3 Oktober by Lydenburg plaas.
bydrae: Charmaine Fortune
