Die stryd tussen Shameer Variawa en Siegfried Rousseau en hul opponente in die Spesiale Voertuigkategorie, Kallie en Quintin Sullwald sal tydens die laaste kampioenskapbepalende ren, die RFS Magalies 400 wat op 19 en 20 November plaasvind, beslis word.
‘n Sege tydens die eerste Human Auto 400, die voorlaaste ronde in die Absa-Veldrenkampioenskap wat in die Vrystaat plaasgevind het, het beteken dat Kallie en Quintin Sullwald (Elegant Fuel BAT) tot ses punte agter die kampioenskapleiers, Variawa en Rousseau in die Team Total Porter opgeskuif het. Met 25 wat vir ‘n sege beskikbaar is en 19 punte vir ‘n tweede plek bestaan die moontlikheid dat dié twee spanne gelykop kan eindig en die kampioenskap sal dan uitgetel moet word.
Soos sake nou staan het Variawa/Rousseau drie oorwinnings en twee tweede plekke tot hul krediet. Nadat hulle tydens die eerste twee byeenkomste van die seisoen nie punte kon aanteken nie, het die Sullwalds intussen twee seges en drie tweede plekke aangeteken.
Daar is ander faktore wat nie uit die prentjie gelaat kan word nie, maar diti is ‘n onomwonde feit dat die kampioenskap ‘n geveg tussen Variawa/Rousseau en die pa- en seun-span van Phalaborwa is.
Klas P-kampioene, Johan van Staden en James Rossouw (Atlas Copco BAT) is uit die algehele kampioenskapsprentjie, maar kan ‘n gevaar vir die Sullwalds wees wat die tweede plek betref. Nadat hulle nie die Human Auto 400 kon voltooi nie, is Herman en Wichard Sullwald (Sullwald Racing SVR) ook uit die prentjie wat die algehele stryd betref en die beste waarvoor hulle kan hoop, is om Van Staden/Rossouw uit hul derde plek te skop.
Agter die top drie heers daar ook ‘n hewige stryd vir die ander posisies in die jaerskampioenskap. Nick Harper (Atlas Copco BAT), Jimmy Zahos (Cobalt Racing Porter) en die Klas P-jaer, Archie Rutherford (Regent Racing Jimco) word deur slegs twee punte geskei.
Al drie jaers het van meer as een navigator gedurende die seisoen gebruik gemaak met Mike Lawrenson die derde navigator wat langs Rutherford gesit het. Dit beteken dat Louis Alberts, wat langs sy pa, Nardus, in die Wrapsa BAT sit, in die vyfde plek in die algehele navigatorskampioenskap ingeskuif het.
Die prentjie in Klas A lyk basies dieselfde as die algehele kampioenskap. Hier is Variawa en Rousseau slegs vier punte voor Kallie en Quintin Sullwald met die tweede Sullwald-span ‘n verdere nege punte agter.
‘n Oorwinning in die Vrystaat het aan die Kaapse span, Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie (Adenco BAT) die Klas B-titel besorg. Die Human Auto 400-resultaat plaas die Bezuidenhouts buite bereik van Coetzee Labuscagne en sy dogter, Sandra (Raysonics Zarco) en die Makenete-broers, Keith en Andrew in nóg ‘n Zarco.
Van Staden en Rossouw, wat vroeër die seisoen geskiedenis gemaak het toe hulle die eerste Klas P-span geword het om ‘n Absa-nasionale byeenkoms algeheel te wen, het ook hul titel in die Vrystaat bevestig. Rutherford en die Swaziland-gebaseerde John Thomson (Zarco Magnum) is tweede en derde van die jaers met Deon Bezuidenhout (Adenco BAT) en Rudi Balzer (Century Racing CR2) tweede en derde van die navigtors.
Die finale byeenkoms van die seisoen, die RFS Magalies 400, sal op 19 en 20 November plaasvind en die renhoofkantoor sal by die Tarlton Internasionale-renbaan wees. Die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal ook by die Krugersdorp-kompleks wees.
bydrae: Charmaine Fortune
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
