Styl, nutswaarde en gerief

Die ontwerpopdrag vir die nuwe Prado het vereis dat enige toename in die algehele grootte van die voertuig tot die minimum beperk moet word om die uitstekende ratsheid en maneuvreerbaarheid van die huidige model, asook die mediumgrootte sportnutsvoertuigkarakter van die Prado, te behou. Met die oog hierop is die algehele lengte met net 45 mm en die algehele breedte met net 10 mm vergroot. Die nuwe Prado is 20 mm laer as sy voorganger en dit verseker beter lugdinamika en, gevolglik, beter brandstofekonomie.

Die nader- en die vertrekhoek, wat so ‘n belangrike rol speel in die voertuig se uitstekende veldryvermoë, is onderskeidelik 32 en 24 grade, dieselfde as dié van sy voorganger.

Styleienskappe wat ‘n kragtige beeld vir die nuwe Prado skep, sluit onder meer in ‘n gordellyn wat 20 mm hoër geplaas is, die hoër enjinkaplyn en die enjintussenkap wat 45 mm verder na vore geplaas is. Hierdie eienskappe verbeter sig en maak die bestuurder meer bewus van sy omgewing.

In die kajuit is ruimte sowel as nutseienskappe verbeter. Die kajuit is 35 mm langer en 5 mm breër, en die ruimte tussen die bestuurder en die voorste passasier is met 30 mm vergroot.

‘n Groot verbetering in bruikbaarheid en gerief is verkry deurdat die tweede ry sitplekke kan skuif. Nie net vergemaklik dit toegang tot die heel agterste twee sitplekke nie, maar dit vergroot ook beenruimte vir die insittendes op die tweede ry sitplekke. Heel agter, by die voete van die agterste insittendes, is die vloer laat sak om voetruimte en die sitposisie te verbeter. Die twee sitplekke heel agter kan onder die vloer gebêre word as hulle nie gebruik word nie, wat meer laairuimte beteken.

Die nuwe Prado bied meer as voldoende bêreruimte, en op al die regte plekke. Afgesien van die normale rommelkissie en bêrekonsoles voor en agter is daar ook bêrehouers aan al vier deure. Die bêrekonsole agter het ‘n verdampingskoelstelsel, gevolglik kan koeldranke en snoeperye daarin koel gehou word.

Toyota Land Cruiser Prado
Toyota Land Cruiser Prado

Voor in die Prado is daar ‘n oorhoofse konsole met liggies, skakelaars en bêreplek vir dinge soos sonbrille en dies meer. Die oorhoofse konsole het ook ‘n sogenaamde “gesprek”-spieëltjie, wat vir die eerste keer in die nuwe Toyota Verso gebruik is. Dit vergemaklik kommunikasie tussen die bestuurder en die insittendes agter.

Die laairuimte spog met ‘n aantal eienskappe om bruikbaarheid sowel as praktiese nutswaarde te verbeter. Onder hulle is ‘n 12 volt-kragpunt en ‘n aantal individuele bêrekissies, insluitende bêreruimte vir die gereedskaprol en waarskudriehoeke. Daar is ook ‘n bagasieseil.

Die Prado VX is toegerus met Toyota se Slim Toegang- en Aanskakelstelsel, wat beteken dat die bestuurder al die deure kan oop- en toesluit en die enjin kan aanskakel bloot deur die sleutel by hom/haar te hê. Dit is nie nodig dat die sleutel iewers ingedruk hoef te word nie.

Onder die geriefseienskappe in die nuwe Prado is daar ‘n sonarafstandbeheerstelsel met agt sensors – twee op die voorste en die agterste hoeke van die voertuig en twee in die voorste en die agterste buffer. Hierdie ultrasoniese sensors bespeur voorwerpe rondom die voertuig. Die bestuurder word op die veelinligtingvertoonskerm ingelig oor waar die voorwerp(e) is en die afstand tussen die voorwerp en die voertuig.

Toyota Land Cruiser Prado
Toyota Land Cruiser Prado

‘n Ander nutselement om die bestuurder te help, is die sogenaamde Multi-terrain Monitor. Dit is ‘n eerste ter wêreld-innovering van Toyota en word saam met die Multi-terrain Select-stelsel gebruik. Die monitor help die bestuurder in veldrytoestande om die omgewing van ‘n kant af deur te kyk. Die bestuurder kan kies of hy ‘n beeld van die voorste, kant- en agterkameras op die kleurskerm wil sien.

Die voorste kamera verskaf ‘n wyehoekbeeld en laat die bestuurder plekke sien wat hy nie normaalweg kan bekyk nie. Die stelsel bied sig van net 50 cm voor die voertuig af en het stuurgeskakelde “gidse” wat die pad van die voorwiele voorspel en die bestuurder help om hindernisse te vermy. Wanneer die bestuurder trurat (R) skakel, skakel die beeld outomaties na die agterkant van die voertuig.

Kameras in die kantspieëls gee die bestuurder ‘n gelyktydige beeld van die area rondom die linker- en regterkantste bande. Die voertuigbreedte word grafies vertoon, asook parallelle lyne wat ‘n afstand van 350 mm van die kant van die voertuig af aandui. Dit help die bestuurder om afstand en vryruimte te bepaal.

Danksy die Wyesig-Voor- en Kantmonitorstelsel (Wide-view Front and Side Monitor) kan bestuurders bepaal wat die veiligheidsituasie is, veral by blinde kruisings. Die stelsel werk net by snelhede benede 12 km/h. By hoër snelhede skakel die stelsel outomaties oor na die navigasieskerm op die EMV-vertoon of die bestuursmonitorskerm. Die stelsel word met ‘n skakelaar aan die stuurwiel aan- en afgeskakel.

Die volle leerkajuit van die nuwe Prado VX is besonder luuksueus en word aangevul deur die outomatiese klimaatbeheerstelsel wat net die regte graad van hitte of verkoeling verskaf. Die bestuurder en die voorste passasier kan elkeen sy/haar eie temperatuurstelling kies. Dieselfde geld vir die passasiers agter.

‘n Hoëgehalte-klankstelsel met ‘n DVD-wisselaar en 14 luidsprekers is standaard. Die stelsel sluit in ‘n Bluetooth- en MP3-funksie. Hierdie stelsel is geïntegreer met die HDD-navigasiestelsel.

Lewer kommentaar

Leave a Reply