KAAPSTAD – In ’n skuif wat kelners, braaivleis-entoesiaste en oom Jan met sy “ek ry beter ná twee” kollektief laat sluk het, het die minister van vervoer Barbara Creecy aangekondig dat Suid-Afrika se dronkbestuur limiet binnekort amptelik nul gaan wees.
Creecy, wat die aankondiging saam met adjunkminister Mkhuleko Hlengwa gemaak het, sê haar departement beplan om Artikel 65 van die Nasionale Padverkeerswet te wysig om ’n beleid te skep wat so helder is soos ’n alkoholvrye bier: geen drank, geen debat, geen bestuur.
Volgens die minister is dit tyd om afskeid te neem van die historiese kompromie wat bestuurders toegelaat het om “net ’n bietjie” te drink voordat hulle agter die stuur inklim. Die nuwe benadering, sê sy, laat geen ruimte vir kreatiewe interpretasies soos “dis net een glas wyn” of “ek het mos geëet” nie.
Die aankondiging het gekom tydens die bekendstelling van die 2025/26 feesseisoen-padveiligheidsverslag, wat die tydperk van 1 Desember 2025 tot 11 Januarie 2026 dek — ’n tyd wat tradisioneel bekend staan as die land se mees intense kombinasie van verkeer, vakansiegevoel en swak besluite. Kenners voorspel dat die wet, indien ingestel, Suid-Afrikaners sal dwing om ’n radikale nuwe konsep te oorweeg: drink óf ry — maar nie albei nie.

