Suid-Afrikaanse stede en dorpe gedigitaliseer met Toyota Prius

Toyota Suid-Afrika Motors het in September 2009 ’n vloot van Toyota Prius voertuie aan Google oorhandig om hulle te help met die insameling van 360 grade-digitale beelde van Suid-Afrika se stede, grootste dorpe en mees herkenbare toeristebestemmings, soos die Kruger Nasionale Park.

Die taak is nou, sowat 9 maande en meer as 64 000 km later, voltooi en Google Street View is ’n realiteit! As bonus het Toyota Suid-Afrika reeds Google se Street View en Maps-produkte in sy webruimte geïntegreer en huidige of voormalige kopers kan voortaan ’n handelaar opspoor en inspekteer op die internet. Die funksie is reeds beskikbaar by www.toyota.co.za en dit maak Toyota Suid-Afrika een van die eerste maatskappye om van hierdie nuwe Google-tegnologie gebruik te maak.

Google se Street View is ’n unieke produk wat digitale beelde van stede en herkenbare plekke in 360 grade reg rondom aanbied. Uniek-ontwikkelde komplekse digitale kamerastelsels is op die Prius se dak monteer en het beelde vasgelê soos die voertuie op openbare paaie deur stede en groot dorpe gery het. Altesame 27 stede en groot dorpe in Suid-Afrika is op hierdie manier digitaal vasgelê.

“Ons wil vir Google gelukwens met hul harde werk om hierdie beelde in te samel en te verwerk voor die 2010 Wêreldbeker Sokkertoernooi in Suid-Afrika begin het. Die groep se tegnologie stel landsburgers en buitelandse besoekers in staat om ’n unieke blik te kry op ons pragtige land en wêreldklas sokkerstadiums en dit is iets wat die land vir ’n lang tyd in die toekoms sal baat,” sê Andrew Kirby, Senior Visepresident: Verkope en Bemarking vir Toyota Suid-Afrika.

“Ons is trots op die feit dat Google die Prius gekies het om hierdie reusetaak aan te pak, aangesien hierdie voertuig die mees omgewings-effektiewe en sekerlik een van die mees betroubare vorms van vervoer vir hul toer deur Suid-Afrika gebied het,” sê Kirby.

Die nuwe generasie Toyota Prius, wat laat verlede jaar bekend gestel is, bied die laagste CO2-uitlaatgas-syfer van enige nuwe motor in Suid-Afrika (94 g/km), danksy sy unieke hibriede aandrywingstelsel, alombekend as Hybrid Synergy Drive. Die stelsel maak gebruik van ’n binnebrand- en elektriese aandryfstelsel om die laagste moontlike brandstofverbruik en uitlaatgasvlakke te bied, sonder om verrigting in te boet. Die Prius is een van slegs ’n klein aantal voertuie wat nie belas sal word wanneer die voorgestelde uitlaatgas-belasting later vanjaar bekend gestel word nie.

Google & Toyota Prius

Vir meer inligting oor die Hybrid Synergy Drive soos gebruik in die Toyota Prius, besoek gerus www.toyota.co.za.

Vir meer inligting oor Google Street View, besoek gerus www.google.co.za/streetview.

Lewer kommentaar

Leave a Reply