Sun City 400, taai soos altyd

Die Sun City 400 is tradisioneel een van die taaiste byeenkomste op die Absa-Veldrenkampioenskalender en vanjaar se ren wat op 16 en 17 Julie plaasvind, sal dieselfde wees.

Die Pilanesberg-ren bring ‘n einde aan ‘n lang rusperiode in die Absa-reeks as gevolg van die Fifa-Wêreldbeker en die veldrengemeenskap sal oorgeheel wees vir aksie. Die Sun City 400 vorm gewoonlik die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, maar die kalender het vanjaar verander om by grondeienaars en weersomstandighede aan te pas en vanjaar vorm dit die vierde ronde van die kampioenskap.

“’n Effense skommeling van die datums beteken nie dat die ren enigsins makliker gaan wees nie,” het die hoofroetebeampte, Adri Roets, gesê. “Die roete sal weer eens uiteenlopend en interessant vir deelnemers wees en sal bosveldterrein asook klipperige gedeeltes en rivierkruisings insluit.

“Ons het ‘n paar veranderings hier en daar aangebring, maar die roete is grotendeels dieselfde as laas jaar met die verskeidenheid tipes terrein wat ‘n uitdaging vir die deelnemers sal inhou. Daar is nie veel reën dié tyd van die jaar nie en die toestande kan moontlik ‘n bietjie meer stowwering as gewoonlik wees.”

Die Donaldson-voorren van 16 Julie wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal, sal oor 60 kilometer strek. Dit is korter as wat die norm tot dusver die seisoen was en is die resultaat van deelnemers se terugvoer terwyl die ren oor twee sirkelroetes van 190 kilometer sal plaasvind.

Die Sun City 400 het reeds twee keer die afgelope drie jaar die meeste stemme as die beste byeenkoms van die jaar op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender verwerf en sal weer eens toeskouervriendelik wees. Met Sun City – ‘n internasionaal-bekende vakansieoord wat ‘n wye verskeidenheid vermaak en ontspanningsaktiwiteite aanbied – wat binne maklike bereik van Gauteng, Limpopo en Noordwes is, verwag organiseerders groot skares entoesiaste.

“Ons het weer eens uitstekende samewerking van die Royal Bafokeng Koninkryk ontvang en die roete is uiters toeskouervriendelik,” het Roets gesê. “Daar is 13 toeskouerpunte binne maklike bereik van die Sun City-kompleks en entoesiaste het ‘n keuse van waar hulle die aksie van naderby kan aanskou.”

Die renhoofkantore, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by die Sun City-kompleks wees. Die Donaldson-voorren sal op 16 Julie om 11h30 begin met die ren wat geskeduleer is om op 17 Julie om 08h00 af te skop.

Toegang tot die begin- en eindpunte; die aangewese dienspunt en die toeskouerpunte langs die roete is gratis vir die publiek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply