Toyota het ’n klein vroulike figuur en groot manlike-figuur ontwikkel en by sy reeks digitale botsingstoets-poppe gevoeg.
Dié digitale poppe staan bekend as THUMS (Total HUman Model for Safety) en bied ingenieurs die geleentheid om botsingstoetse in veel meer detail na te boots as wat die geval is met normale fisiese botsingstoets-poppe.
Die nuwe digitale model van ’n 153 cm lange vroue-figuur en ’n 189 cm lange manlike figuur sluit aan by die bestaande 179 cm lange manlike figuur met gemiddelde liggaamsbou in die THUMS-reeks. Al drie modelle word in twee weergawes aangebied, naamlik as die insittende van ’n voertuig en as voetganger. Dit beteken dat die reeks in der waarheid ses modelle bied. Dit is dus nou moontlik om ’n reeks liggaamsgroottes te bestudeer wanneer ingenieurs interne beserings in ’n motorongeluk bestudeer.
Die nuutste botsingstoets-programmatuur is die produk van ’n samewerkingsooreenkoms tussen Toyota Central R&D Labs Inc., verskeie universiteite en ander eksterne navorsingsondernemings. Die poppe is ontwikkel deur gedetailleerde mates van die menslike liggaam te neem met ’n hoogs-akkurate rekenaar-tomografie-skandeerder (’n sogenaamde “CT-scanner”).
Deur hierdie akkurate modelle te skep, met gedetailleerde afbeeldings van organe, hul plasing in die menslike liggaam en die manier waarop die verskillende organe inmekaar-skakel, het Toyota daarin geslaag om modelle te skep wat sowat 14 maal meer inligting insamel as wat voorheen die geval was. Die groter detail stel navorsers in staat om ’n baie beter begrip te ontwikkel van hoe organe beskadig word in ’n motorongeluk.
Toyota se Tegniese Ontwikkelingsorganisasie sal die nuwe digitale modelle aan universiteite bemark en sal, tesame met die konsultasie-maatskappy JSOL Corporation, die nuwe klein vroulike liggaam en groter manlike liggaam van die begin van die Noordelike Halfrond se somer aan groot maatskappye begin bemark.

Toyota sal die inligting wat hy met die digitale botsingstoetse en nuwe digitale THUMS-modelle insamel gebruik om selfs veiliger motors te ontwikkel. Dit strook met Toyota se doelwit om noodlottige ongelukke en ernstige beserings in motorongelukke uit te skakel. Toyota sal boonop binnekort ’n bejaarde persoon en kind by die reeks digitale poppe voeg om ’n selfs meer omvattende reeks toetse moontlik te maak.
