Die nuwe Toyota Prius, wat in Augustus in Suid-Afrika bekend gestel is, is benoem tot finalis in die SA Motorskrywersgilde en WesBank se 2010 Motor van die Jaar-kompetisie.
Die Prius het minder as ‘n maand gelede sy eerste belangrike toekenning gewen: ‘n paneel vooraanstaande motorjoernaliste en bedryfskenners het die derde geslag van Toyota se wêreldberoemde hibriedmotor by die Tokio-Motorskou aangewys as Japan se Motor van die Jaar.
Die jurielede van die SA Motorskrywersgilde het erkenning verleen aan die tegnologies gevorderde Hybrid Synergy-stelsel van die Toyota Prius 1.8 Advanced deur die motor in hul lys van finaliste in te sluit.
Die Prius is nie net een van die gesofistikeerdste motors wat vandag beskikbaar is nie, maar dit is ook die omgewingsvriendelikste motor in Suid-Afrika met emissies van net 95 g/km CO2, geen NoX-gasse nie en ‘n petrolverbruik van net 4,1 liter/100 km.
Sedert sy bekendstelling in 1997 is meer as 1,2 miljoen Priuse al oor die hele wêreld verkoop, en die jongste Prius is die afgelope ses maande die topverkoper-passasiersmotor in Japan.
By al sy ander deugde is die Prius besonder veilig ook – dit spog met ‘n vyfsteraanslag in die Euro NCAP-botsprogram met een van die heel hoogste tellings ooit. Die Prius het reeds aangewys as die 2009 WhatGreenCar van die Jaar en dit is ook ‘n finalis in die 2010 World Green Car-kompetisie.
