Toyota Prius is Japan se motor van die jaar

Die nuwe Toyota Prius het pas sy eerste groot toekenning ontvang – die revolusionêre petrol/elektriese hibriedmotor is by die Tokio-Motorskou aangewys as Japan se Motor van die Jaar 2010 deur ‘n paneel bestaande uit vooraanstaande motorjoernaliste en bedryfskenners.

Die toekenning is ‘n formele erkenning van die vordering wat Toyota gemaak het met die derde geslag van die Prius. Nie net spog die motor met meer krag nie, maar dit gebruik ook minder petrol en daar is minder skadelike emissies.

Die Prius se gevorderde, maar gebruikersvriendelike tegnologie is duidelik ook wat kopers in ‘n 21ste-eeuse “groen” voertuig soek. Die Toyota was die afgelope vyf maande agtereenvolgens die topverkoper in Japan – trouens, nog elke maand sedert die nuwe model sy opwagting by handelaars gemaak het.

In September alleen is meer as 31 000 Prius-eenhede verkoop – byna 11 persent van alle verkope van nuwe voertuie in Japan.

Lewer kommentaar

Leave a Reply