Toyota se ekovriendelike sportmotor

Toyota se verbintenis tot die ontwikkeling van ‘n volle reeks hibriedmotors wat voldoen aan die vereistes van ‘n wye reeks motorryers, insluitende die entoesias, word geïllustreer deur die Toyota FT-HS-hibried. Die FT-HS, ‘n konsepvoertuig waarin Toyota se gevorderde tegnologie getoon word, is vir die eerste keer by verlede jaar se Geneefse Motorskou vertoon.

Die FT-HS, ofte wel “Future Toyota Hybrid Sports”, is ontwerp en ontwikkel om te toon dat Toyota se gevorderde Hybrid Synergy Drive-tegnologie aangewend kan word vir die vervaardiging van ‘n hibriedmotor met ‘n kragtige en opwindende bestuursondervinding in kombinasie met ekovriendelike verrigting. Byvoorbeeld, een van die ontwikkelingsdoelwitte vir die FT-HS was ‘n versneltyd van in die omgewing van vier sekondes van 0 tot 100 km/h.

Calty, Toyota se navorsing- en ontwerpsentrum in Kalifornië, het die FT-HS geskep as ‘n bekostigbare sportmotor wat ekovriendelikheid en emosie integreer en die vraag “Wat is ‘n geskikte sportmotor vir die 21ste eeu?” aanspreek.

Calty se ingenieurs en ontwerpers het dit bereik deur ‘n kragtige hibriedkragoorbringstelsel te kombineer met essensiële sportmotoreienskappe. Die resultaat is ‘n voertuig met ‘n treffende voorkoms, funksies wat op die bestuurder ingestel is en verrigting wat die beskouing dat ekovriendelike motors uit die aard van die saak bestuursgenot inboet, die nekslag toedien.

Toyota FT-HS

Toyota FT-HS
(foto Motorpics)

Die FT-HS verenig die vermoë van ‘n hibriedstelsel met noodsaaklike sportmotoreienskappe, soos ‘n slanke profiel, uitstekende lugdinamika en ‘n ligte bak/kragoorbringstelsel. Die kragtige V6-petrolenjin van 3,5 liter, gekoppel aan die volgende geslag van sporthibriedstelsels, dryf die agterwiele aan.

Die ontwerpdoelwit van die kragoorbringstelsel is 300 kW, wat die potensiaal van hibriedtegnologie duidelik toon.

Toyota FT-HS

Toyota FT-HS
(foto Motorpics)

Die buite-ontwerp van die FT-HS is in ooreenstemming met die kernwaardes van Toyota se handelsmerkfilosofie deur die toepassing van twee konstante temas: J-Faktor en Klinkklare Helderheid. J-Faktor verwys na die plaaslike en globale aanvaarding van Japans geïnspireerde ontwerpe en die Japanse kultuurvorm. Dit is hierdie aspek van die ontwerp wat die FT-HS-konsep laat uitstaan as ‘n Toyota met globale aantrekkingskrag.

Klinkklare Helderheid is die ontwerptaal wat Toyota gebruik om die J-Faktor uit te druk. Dit is ‘n kombinasie van perfekte wanbalans, geometriese vry vorms en geïntegreerde argitektuur om Toyota-modelle te skep wat toekomsgerig en energiek is, terwyl hulle terselfdertyd ‘n helderheid van doel en rasionaliteit behou.

Toyota FT-HS

Toyota FT-HS
(foto Motorpics)

Die FT-HS is ‘n viersitplek-koepee met ‘n unieke afslaandak. Die dakpaneel, van koolstofvesel-Kevlar, en die agterruit skuif in net 10 sekondes glad op- en afwaarts tot op die agtersitplek. In hierdie konfigurasie is die FT-HS ‘n tweesitpleksportmotor. In die op-posisie het die dak ‘n kenmerkende uitgeholde seksie wat lugsleur verminder en voldoende kopruimte aan die insittendes bied.

Die voertuig se driehoekige profiel word beklemtoon deur ‘n vry C-pilaar, skerp kante en vloeiende kurwes. Aan die voorkant spog die aggressiewe neusontwerp met smal kopligstroke en diep luginlaatopeninge. Die enjinbedekking is van gerookte glas sodat ‘n mens die gevorderde Hybrid Synergy Drive-kragoorbringstelsel kan bekyk.

Voorbeelde van die geïntegreerde komponentargitektuur kan gesien word in die verligting, wat deur die ruimtevaartbedryf geïnspireer is. Die agterligeenheid strek oor die hele agterkant van die motor en het ‘n geïntegreerde, terugtreklugvlerk. Die kopligte en die voorste modderskerms het LED-samestelle om energie te bespaar.

‘n Ander buitekenmerk is ‘n snelheidsgeaktiveerde vlerk wat by hoë snelhede oplig vir groter stabiliteit en vastrap. Agter het die FT-HS ‘n onderste lugwerwelaar van koolstofvesel en ‘n wye, geïntegreerde uitlaatpyp. Die wiele is van koolstofvesel – nog ‘n voorbeeld van die omvattende gebruik van hoogtegniese materiale.

Die kajuit van die motor is ontwerp met die klem op die gerief van die bestuurder en is ‘n toonbeeld van gevorderde tegnologie. In die stuurkajuit word omvattende gebruik gemaak van koolstofvesel en titaan. ‘n Geïntegreerde instrumentpaneel omring die bestuurder. Dit skep ‘n soort ingeslote deltavlerk-ruimte waarin talle nuttige funksies in ‘n liggewig-eenheid gekombineer is. Aanraaksensors omring die bestuurder, wat hom in volle beheer laat by hoë snelhede.

Toyota FT-HS

Toyota FT-HS
(foto Motorpics)

Die teleskopiese, naaflose stuurwiel het spaanverstellers vir die halfoutomatiese ratkas. Dit het ook meegebring dat die vertoonsamestel vorentoe gebring kon word om die bestuurder se fokustyd te verminder wanneer hy sy oë van die pad na die instrumente verskuif.

Met ‘n prys in die middelbestek behoort die Toyota FT-HS aanklank te vind by ekobewuste klante wat graag ‘n kragtige sportmotor wil ry, maar so min moontlik skade aan die omgewing wil veroorsaak. Hierdie kopers is waarskynlik mense vir wie die nuwe tegnologie welkome lewensnoodsaaklikhede eerder as luukses is.

Lewer kommentaar

Leave a Reply