Unieke trofees vir Toyota Kalahari Botswana 1000-woestynren

Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 24 tot 26 September plaasvind, het altyd ‘n unieke Afrika-gevoel gehad wat vanjaar ‘n stappie verder geneem word.

Die trofees en die tradisionele plakette vir al die deelnemers wat die ren – die enigste marathon-byeenkoms op die nasionale veldrenkalender – voltooi, sal vanjaar deur straatverkopers in Johannesburg en omliggende omgewings vervaardig word. Die trofees sal draadvoertuie met kralewerk wees wat op voetstukke gemonteer word met die wapens vir spanne wat die ren voltooi het, wat uit hout gekerf sal wees.

Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren word weer eens deur die Four Wheel Drive-klub van SA georganiseer wat besluit het om van die tradisionele metaal- of glastrofees weg te beweeg.

“Ons het gevoel dat dit ‘n ideale geleentheid is om die Afrika-gevoel van die byeenkoms uit te brei en terselfdertyd bykomende werk vir lede van die agtergeblewene gemeenskappe te skep,” het die renvoorsitter, Alan Reid, gesê. “Daar is uiters talentvolle mense in dié gemeenskappe en ons is verheug om hulle van broodnodige werk en die geleentheid om hul ware op ‘n groter skaal te bemark, te kan voorsien.

“Die trofees en die wapens is ‘n belangrike wegbreek van die norm, maar dit is besonders en ons is van mening dat deelnemers baie tevrede sal wees met hul aandenkings van ‘n byeenkoms met ‘n Afrika-aura.”

‘n Voormalige huishulp, Ntombi Manyoni is die brein agter die e-Nkomo Arts and Traders cc-rariteitewinkel by die Bara-taxistaanplek en sal van die draadvoertuie en kralewerk voorsien. Die 73-jarige Ntombi het geleer om kralewerk te doen en het ‘n beslote korporasie geregistreer toe sy verplig was om ‘n besigheid wat sy vir jare langs die Orlando-stadion gehad het, toe te maak.

Ntombi het gesê dat sy beplan om met wins van die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren-projek nuwe voorraad vir haar besigheid aan te koop.

Admire Yasini, wat oorspronklik van Zimbabwe is, sal ook motorvoertuie van kralewerk voorsien. Hy beskik van jongs af oor ‘n passie vir dié werk en onderhou drie bloedverwante wat werkloos is asook ‘n jonger broer wat steeds op skool is.

Met geld wat Admire deur die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren-trofees verdien, beplan hy om ‘n staanplek by die Bruma-meer oop te maak waar hy sy kralekunswerk kan vertoon en verkoop.

Nkosinathi Ndaba, bekend as Nathi, is van Dlamini 2 in Soweto en sal die houtgegraveerde plakette maak. Nathi het nog altyd in kuns belang gestel, maar het as ‘n motorwerktuigkundige en bouer gekwalifiseer en maak deesdae ‘n bestaan as ‘n nutsman.

Nathi sê die geleentheid om kentekens te graveer, is ‘n ‘droom’ wat bewaarheid is. Nathi het twee jong werklose mans van Soweto aangestel om hom met die projek te help aangesien dit ‘n groot hoeveelheid werk is en die tyd beperk is.

Hy hoop ook om bykomende masjienerie met sy wins aan te koop en beplan om ander jong kunstenaars van Soweto te onderrig.
Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren sal vanjaar by Kumakwane, 25 kilometer wes van Gaborone gebaseer wees. Die renhoofkantore, die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt sal by Kumakwane wees.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply