Verandering van omgewing vir veldrenkampioenskapdeelnemers

 

Daar sal ‘n verandering van omgewing vir die veldrengemeenskap wees wanneer hulle die Oos-Kaap 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 17 en 18 April plaasvind, aanpak.

Dié byeenkoms is na die branderplankryparadays, Jeffriesbaai, geskuif met die renhoofkantoor, die aangewese dienspunt en die begin- en eindpunt wat by die vyfster-landgoed, Mentorskraal Country Estate, sal wees. Mentorskraal is in 1990 ontwikkel en is bo Jeffriesbaai met ‘n ideale ligging naby aan die N2-hoofweg.

Die skuif van Port Elizabeth na Jeffriesbaai beteken egter nie dat deelnemers ‘n ontspannende naweek kan verwag nie. Organiseerders in vanjaar se Absa-reeks word aangemoedig om met meer tegniese roetes vorendag te kom en die Algoa Motorklub het, soos die geval met die seisoenopener, die Adenco 400 in die Wes-Kaap, presies net dit gedoen.

“Deelnemers kan hulself vir nog ‘n regte veldren voorberei,” het die hoofbaanbeampte, Joe Fourie, gesê. “Ons sal van nuwe paaie in die Gamtoos- en Melon-omgewings gebruik maak en die Longmore-plantasiegedeelte sal weer eens rof en tegnies wees met baie draaie met negatiewe rondings.

“Dit gaan ‘n taai, maar regverdige toets vir die spanne en hul voertuie wees en deelnemers sal hard moet werk om goeie resultate aan te teken.”

Die 52 kilometer-voorren sal in die Gamtoos- en Melon-omgewings plaasvind. Dié gedeelte sal uit rowwe terrein, bosveld, rivierkruisings, kontoere en digte bosse bestaan.

Die voorrenroete sal ook deel van die eerste 130 kilometer van die hoofren se roete vorm. Die oorblywende 76 kilometer sal in die Longmore-plantasies wees en die deelnemers sal die roete twee keer moet voltooi.

Fourie het bygevoeg dat die byeenkoms toeskouervriendelik sal wees. Daar sal drie toekouerpunte in die eerste 50 kilometer wees en nog vyf in die Longmore-plantasiegedeelte.

Verversings en ablusiegeriewe sal beide rendae by die Mentorskraal Country Estate beskikbaar wees asook by verskeie toeskouerpunte langs die roete. Dokumentasie sal Vrydag, 17 April om 10h00 begin terwyl die voorren om 13h00 sal afskop en die hoofren op Saterdag, 18 April, om 08h00.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply