Verfrissend anders, dog dieselfde

Subaru Technica International, of kortliks net STI … Hierdie drie letters het in minder as drie dekades legendaries geword en daar is maar min mense wat nie verstaan wat dit beteken as jy die kenmerkende rooi kenteken aan die agterkant van ’n Subaru Impreza sien nie.

Suid-Afrikaanse motorryers kan van April vanjaar af danksy die bekendstelling van ’n meer bekostigbare weergawe van die STI agter die stuur van ’n motor wat toeganklike verrigting teen R474 000 herdefinieer, inskuif. Dit is vermag deur twee luukse-eienskappe te verwyder: die Recaro-leersitplekke en die 18-duim-BBS-allooisierwiele, wat die prys met bykans R50 000 laat daal het. Uiterste verrigting is selde in só ’n skitterende waarde-vir-geld-pakket beskikbaar.

Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, het dit só opgesom: “Die besluit oor watter toerusting werklik noodsaaklik eerder as net lekker is om te hê, en noue samewerking met Subaru in Japan, het dit vir ons moontlik gemaak om hierdie model, wat aan die einde van die dag ongeëwenaarde waarde vir geld verteenwoordig, bekend te stel. Ek dink verrigtingsmotor-entoesiaste in die algemeen en die Impreza STI-gelowiges veral sal baie in hul noppies wees.”

Die nuwe STI wat meer basies toegerus is, behou dieselfde ongelooflike dryfstelsel: die bekroonde dubbelbonokas-turbo-enjin van 2,5 liter (enjin van die jaar in 2008) wat ’n tintelende 221 kW teen 6 000 r/min lewer en 407 Nm se wringkrag teen 4 000 r/min ontwikkel, en aan ’n seepgladde 6-gang-handratkas gekoppel is.

“Ons hoef waarskynlik nie weer te beklemtoon dat al vier die wiele voltyds aangedryf word nie, maar ons sal… dis egter nie sommer enige 4×4-stelsel nie. Subaru se simmetriese aandrywing deur al vier wiele is ontwerp om die wringkrag op die doeltreffendste manier na elke hoek van die motor te stuur ten einde die beste klouvermoë en greep regdeur die meeste moontlike rytoestande te verseker.”

Die voordele is tweevoudig: skitterende veiligheid en rotsvaste stabiliteit, sowel as verwoede versnelling ongeag of jy ’n draai ingaan, deurry of anderkant uitry.

Die STI se middelewenaar wat deur die bestuurder beheer kan word (DCCD), verhoog die ryervaring selfs nog meer deur die bestuurder ’n sê in die motor se hanteringseienskappe te gee. Dié stelsel maak dit moontlik om die wringkragverdeling tussen die voor- en agterwiele te beïnvloed om by die toestande of die bestuurder se gemoed te pas. Vastrapewenaars voor en agter en Subaru se VDC-stabiliteitsbeheer met verskillende verstellings lewer ’n verdere bydrae tot die STI se dinamiese genialiteit.

Maar hoe kan ’n mens die nuweling onderskei? Nie aan die enjinboggel met sy kenmerkende luginlaat om vars, koel hoëdruklug na die tussenverkoeler te voer nie; nie deur sy lae houding net bo die grond wat deur sy 245/40-renagtige rubber beklemtoon word nie; ook nie deur sy renbeproefde KYB-dempers wat diep onder die wielnisse versteek is nie… ’n Mens sal hulle ook nie op ’n versnelbaan kan onderskei nie, want al twee modelle haal die 100 km/h-kerf in net 5,2 sekondes en bly versnel totdat die elektronies beperkte topspoed van 250 km/h behaal word.

Subaru Impreza STI
Subaru Impreza STI

Nee, die enigste manier om die STI Base en Premium op ’n afstand van mekaar te onderskei, is hul wiele: die Base-weergawe gebruik steeds 18 x 8.5J-vellings, maar die stilering verskil heeltemal. Die nuwe wiele van gegote aluminium het ’n klassiek eenvoudige vyfspeek-ontwerp waarvan die plat speke van die naaf af na buite strek en al breër in die rigting van die rand van die velling word.

Bestuurders met arendsoë sal aan die binnekant sien dat die systeun van die sportsitplekke nie so hoog as dié van die Recaro-sitplekke in die Premium-weergawe uitstaan nie, en dat die bekleedsel van ’n mengsel leer en alcantara deur ’n hoëgehalte-doekstof vervang is. Die res is egter dieselfde, wat ook die kenmerkende kersierooi-steke van die Momo-stuurwiel en handremgreep insluit.

Dit is die kern van die nuwe, meer bekostigbare STI-weergawe. Die DNS is nog dieselfde – dit is net ’n alternatief vir die bestaande model, maar behou dieselfde verrigtingsvermoë.

Die nuweling word net soos die Impreza STI Premium, wat ten spyte van die toevoeging van ’n sondak steeds R524 000 kos, deur ’n fabriekswaarborg van 3 jaar of 100 000 km en ’n instandhoudingsplan vir 3 jaar of 63 000 km gedek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply