Vierde sege vir Vos / Pitchford by Sun City 400

Die Donaldson-Nissan Navara-paar van Duncan Vos en Ralph Pitchford het hul vierde sege van die seisoen aangeteken toe hulle die Produksievoertuigkategorie tydens die Sun City 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag by Sun City klaargemaak het, gewen het.

Na nóg ‘n teleurstellende voorren het hulle in die sewende posisie weggespring en Vos en Pitchford het weer eens bewys dat hulle teleurstellende Vrydae in wen-Saterdae kan omskep. Met behulp van ‘n ren waartydens heelwat spanne nie die einde kon haal nie, het dié paar teen die einde van die eerste van twee 180 km-sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, die voortou geneem en hul oorwinning gee aan hulle ‘n stewige houvas op vanjaar se algehele en die hoofklas, Klas SP-kampioenskappe.

“Dit was vinnig en stowwerig, maar die enigste probleme wat ons ondervind het, was twee pap bande,” het ‘n moeë Vos gesê. “Om van die roete af te wyk, was moeilikheid soek en dit was ‘n tipiese Sun City 400.”

Die privaatspan, Gary Bertholdt en André Vermeulen het ‘n uitstekende resultaat behaal deur tweede in die Atlas Copco-Toyota Hilux te eindig. Dit was hul eerste podiumposisie nadat hulle van die Spesiale Voertuigkategorie na die Produksievoertuie ‘oorgeloop’ het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, het ook ‘n broodnodige podiumposisie in die fabrieks-dubbelturbo-Ford Ranger aangeteken. Ford is die eerste Suid-Afrikaanse vervaardiger wat na diesel oorgeskakel het en hul derde plek sal die druk van dié span in ‘n sport verlig waar resultate baie belangrik is.

Terence Marsh en Pieter Groenewald (Regent Racing-Nissan Navara) het hul beste resultaat van die seisoen behaal deur vierde klaar te maak met Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren (RFS-Toyota Hilux) wat hul derde plek tydens die Toyota 1000-Woestynren met ‘n soliede vyfde plek opgevolg het. George en Sharon Barkhuizen (AIM-Toyota Hilux) het ook ‘n goeie vertoning gelewer en so ook Graeme Leith/Mike Larenson (Transcor-Ford Ranger) en die Klas SP-beginners, Louis Weichelt en Maret Bezuidenhout wat die einde in ‘n gehawende Discovery Drilling-Ford Ranger gehaal het.

Vir die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux-span het die ren in ‘n katastrofe ontwikkel. Nadat hulle die pas vroeg reeds aangegee het deur die voorren te wen en in die voorste wegspringposisie weg te spring, moes Anthony Taylor en Robin Houghton vroeg reeds die handdoek ingooi toe hulle ‘n rots getref het en die stuur beskadig het.

Hulle is voor die eerste aangewese kuipestop deur hul spanmaats, Hein Lategan en Chris Birkin gevolg wat tóé die voorlopers was, maar ‘n stukkende beheerarm gehad het. Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-Toyota Hilux) moes ook die aftog blaas en nóg ‘n Toyota-span, Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS-Toyota Hilux) het ‘n ernstige ongelukg gehad toe hulle ‘n klip getref het.

Dit was ook ‘n teleurstellende ren vir die voormalige SA-kampioen, Hannes Grobler en Juan Möhr en Ivar Tollefsen/Quin Evans in die ander Donaldson-Nissan Navaras. Hulle was onderskeidelik agtste en 11de in Klas SP met Grobler wat onder andere sewe minute verloor het toe hulle verkeerd gery het terwyl Tollefsen sonder kragstuur moes klaarkom nadat hulle ‘n klip getref het.

Die voormalige Blou Bulle-skrumskakel, Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) het ‘n einde aan ‘n reeks renne gemaak wat hulle nie kon voltooi nie en het hul eerste Klas D-sege van die seisoen aangeteken. Hulle het Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam-Toyota Hilux D4D) geklop ná ‘n ren waar die voorlopers, Cliff Weichelt en Johann Smalberger (N1 4×4-Toyota Hilux D4D) 20 kilometer voor die einde gebreek het.

Labuscagne/Gerber se sege het ‘n einde gemaak aan vier agtereenvolgende Klas D-oorwinnings deur Toyota-spanne. Verskeie Toyota-seges in Klas E is ook beëindig toe die baan- en renstelster, Leeroy Poulter en Rob Howie in die Ferodo-Nissan Hardbody, dié sege met amper 20 minute ingepalm het.

Poulter, ‘n voormalige Suid-Afrikaanse Produksievoertuigkampioen, is in sy eerste veldrenseisoen en dit was sy eerste sege. Die Vrystaat-span, Louw de Bruin en Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) wat hul beste vertoning van die seisoen gelewer het, was tweede.

‘n Soliede vertoning het Pikkie Labuschagne/Rikus Erasmus (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) in die derde plek laat eindig en hulle het nou voor hul spanmaats, Deon Venter en Ian Palmer, wat die kampioenskapvoorlopers was, laat inskuif. Die Palmer/Venter-voertuig kon nie die ren voltooi nie en met hul vierde plek het die huidige kampioene, Jannie Visser/Joks le Roux (RFS-Toyota Hilux), dié span se voorloperposisie in die kampioenskap kortgeknip.

Lewer kommentaar

Leave a Reply