Die Suzuki Alto is veral gemik op stadbewoners met ’n behoefte aan ’n klein motor wat steeds ’n stylvolle, prettige bestuurservaring bied, maar ook met omgewingsvriendelike kenmerke spog.
Hierdie sewende-geslag Alto is die eerste weergawe wat in Suid-Afrika bemark word. Maar die oorspronklike model, wat in 1979 in Japan sy buiging gemaak het, was van meet af aan ’n baanbreker. Die motor is twee jaar later wêreldwyd beskikbaar gestel.
Die konsep van die eerste-geslag Alto was ’n daadwerklike reaksie op die behoefte aan uitnemende waarde en buitengewoon suinige brandstofverbruik as gevolg van die oliekrisis wat destyds geheers het.
Hoewel die Alto aanvanklik as ’n klein, ligte handelsvoertuig ontwerp is, was besondere veelsydigheid deurlopend ’n sleutelkenmerk. Drie dekades, sewe geslagte en ’n rits verkoopsrekords in die A-segment later, geld daardie kernkenmerke steeds, ondanks die moeilike ekonomiese toestande wat tans ervaar word.
Die Alto onderstreep ook die hooggeagte kleinmotor-tradisie wat Suzuki reeds dekades lank as ’n voorste verkoper van klein motors in Japan en wêreldwyd gevestig het.
In sy jongste formaat bied die Alto ’n aangrypende kleinmotorontwerp wat volmaak op hedendaagse motorbehoeftes en -lewenstyle gerig is.
Onder sy belangrikste voordele tel suinige brandstofverbruik en lae loopkoste, doeltreffende omgewingsvriendelikheid, asook voorslagwaarde en besondere bekostigbaarheid, terwyl Suzuki se welbekende naam vir ’n prettige, praktiese motorervaring behoue gebly het.
Buitevoorkoms
Die aanvanklike ontwerp van die nuwe Alto is deur ’n ontwerpspan van Suzuki se hoofkantoor in Japan uitgevoer, maar deeglike ontwerpstudies is ook in Europa voltooi. Dus het die ontwerpprogram reeds in 2005 met stileringsklinieke in Parys en Milan ’n aanvang geneem.
Deur Europese stileringstendense en -voorkeure te bepaal, kon Suzuki ’n kompakte motor skep wat ook in ’n Europese omgewing vars en aantreklik lyk. Dit geld natuurlik ook Suid-Afrikaanse toestande, waar die plaaslike motormodes as Eurosentries beskou word.
Die Alto is die kleinste lid van Suzuki se reeks strategiese wêreldmotors, en ook die vlagskip wat lae koolfstof-impakwaardes betref. Daarom is die klem op verminderde massa, kompakte afmetings en doeltreffende sleursyfers geplaas om suiniger brandstofverbruik en laer uitlaatgasvlakke te behaal.
Met vorm wat dus deur funksie bepaal is, word die Alto se ontwerp gekenmerk deur ’n gladde, vloeiende profiel wat van die voorruit na die daklyn strek. Die motor se wigvorm skep boonop ’n sportiewe karakter, maar sonder om die ruimte binne te benadeel.
Die wiele is op elke hoek van die voertuig geplaas, en sorg saam met die beklemtoonde wielboë, asook die omlynde kontoere van die enjinkap en die deure, vir ’n sterk, unieke voorkoms wat juis in hierdie marksegment so
belangrik is.
Daarbenewens dui die motor se vooraansig, met sy enkelraam-sierrooster, op ’n sportiewe karakter, wat verder deur die ronde hoofligte beklemtoon word.
Met ’n algehele lengte van net 3,5 meter, is die Alto een van die motormark se kleinste en behendigste vyfdeur-stadritsers. Tog sorg ’n asafstand van 2 360 mm, tesame met slim ontwerp en verpakking, steeds vir ’n ruim kajuit met sitplek vir vier.
Binneruim
Die binneruim weerspieël die hedendaagse ontwerp van die Alto se stilering, en plaas die klem op ’n vars, aantreklike voorkoms en atmosfeer. Die kajuit is besonder gebruiksvriendelik, en bied ’n groot aantal praktiese bergruimtes om by vandag se foefiegerigte lewenstyl te pas.
Die boonste gedeelte van die instrumentepaneel spog met ’n slim, vleuelvormige ontwerp wat in die geval van die GLS-model ook ’n tuiste aan die CD-instemmer met MP3-speelvermoë bied.
Hierdie ontwerp versterk die sportiewe, deftige beeld van die Alto, en benadruk ook die indruk van lae massa en besondere duursaamheid.
Die instrumentepaneel bied boonop’n aantreklike tweekleurskema wat verder tot die indruk van deftige eksklusiwiteit bydra. Daarbenewens pas die omvou-effek van die deurpanele by die ergonomiese ontwerp van die instrumentepaneel.
Praktiese kenmerke
Alledaagse gebruiksvriendelikheid is ’n kernvoordeel van die Alto, met die hedendaagse ontwerp van die motor wat volmaak by die aktiewe lewenstyl van sy teikenmark pas.
Daarom bied die Alto se binneruim ’n indrukwekkende verskeidenheid bergruimtes, wat onder meer groot vakke in die deurpanele voor insluit. Dié vakke is albei groot genoeg om ’n tuiste aan ’n volgrootte A4-padatlas te bied.
’n Oop, vak wat 300 mm diep is en ideaal geskik is vir groter items, is regstreeks voor die voorste passasier geplaas. Die middelste konsole is met twee bekerhouers toegerus, asook ’n kassie waarin vyf CDs gebêre kan word.
Daar is ook ’n verligte rakkie wat vir MP3-spelers, selfone, digitale kameras, beursies en dies meer geskik is. Vir passasiers agter is daar ’n bêreplek in elke deur wat ook ’n bekerhouer insluit. Die houer is groot genoeg vir ’n koeldrank- of waterbottel van 500 ml.
Ondanks die Alto se kompakte afmetings, bied die bagasieruim ’n laairuim van tot 110 liter agter die agtersitplek. Dié ruimte kan tot 354 liter vergroot word deur die sitplekleuning met een, maklike aksie plat te vou sonder dat die agterste nekstutte verwyder hoef te word. Dit het ook ’n laairuimvloer tot gevolg wat amper gelyk is.
Die GLS-weergawe se rugleuning agter is 50:50 verdeel ter wille van selfs meer veelsydigheid, terwyl ’n laairuimdeksel ook voorsien word.
