Suzuki se nuut aangepaste 2010 SX4-meerdoelluikrug sit sy voorganger se tradisie van welslae voort. Maar selfs meer belangrik is die keuse tussen weergawes met voorwiel- of vierwielaandrywing wat die nuwe reeks bied.
Wat voorwielaangedrewe modelle betref, kan kopers boonop kies tussen ’n sesgang-handratkas, en ’n sogenaamde CVT-ratkas met voortdurend veranderende ratverhoudings.
Daarbenewens bied die jongste SX4-reeks ’n vars nuwe voorkoms, en beter werkverrigting, danksy ’n nuwe, kragtiger tweeliterenjin van 112 kW. ’n Hoër vlak van standaardtoerusting vir al drie modelle is ook deel van die opknappakket.
Daarmee benadruk Suzuki sy filosofie van uitstekende waarde en ’n weergalose eienaarservaring.
Die bekendstelling van die vierwielaangedrewe SX4 AWD sal veral ’n trekpleister wees vir kopers wat op soek is na ’n praktiese gesinsvoertuig met sommige van die veelterreinvermoëns van ’n sportnutsvoertuig (SNV).
Daaronder tel ’n elektronies skakelbare vierwieldryfstelsel wat ’n verskeidenheid bestuursomstandighede maklik baasraak, asook die voordeel van bykomende grondvryhoogte, en ’n gepaardgaande hooggeplaaste bestuursposisie.

Tog beteken die kompakte afmetings, klein draaisirkel, praktiese vyfdeur-uitleg en ratse verrigting dat die SX4 steeds aan die behoeftes van die gesinsluikrugmotor voldoen.
Dus bied die Suzuki eintlik die beste elemente van dié twee andersins uiteenlopende sektore.

Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
