Vos / Pitchford gee pas aan

 

Die huidige Suid-Afrikaanse kampioen, Duncan Vos, en Ralph Pitchford het vroeg die voortou in die algehele en Klas SP-kampioenskappe in vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap geneem.

Twee oorwinnings na twee renne – die Adenco 400 in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap 400 – het gesorg dat die Donaldson-Nissan Navara-fabriekspan se jaar teen ‘n spoed afskop. Met ‘n groot voordeel vroeg in die seisoen gaan die res van die veld Vos en Pitchford moeilik vang.

‘n Tweede Donaldson-Nissan Navara-span lei dié wat die vangwerk moet doen. Die Noorweër, Ivar Tollefsen en sy Britse navigator, Quin Evans, wat vierde tydens vanjaar se Dakar-ren geëindig het, is ‘n enkele punt voor Chris Visser en Japie Badenhorst wat ‘n soliede begin tot die seisoen in hul RFS-Toyota Hilux gehad het.

‘n Derde Donaldson-Nissan-span, die veteraan Hannes Grobler saam met die huidige navigatorskampioen, Juan Möhr, deel die vierde plek met Thomas Rundle en Hennie ter Stege wat ‘n indrukwekkende debuut in die fabrieks-Ford Racing Ranger tydens Oos-Kaap 400 gehad het. Vyfde is die Klas E-voorlopers, Deon Venter en Ian Palmer (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) wat hul seisoen ook met twee seges afgeskop het.

Volgens die Klas SP-puntestand is Vos en Pitchford voor Tollefsen/Evans en Visser/Badenhorst met Grobler/Möhr en Rundle/Ter Stege wat die vierde plek met die Castrol-Toyota Hilux-span van Hein Lategan en Chris Birkin deel.

Die pa- en seun-kombinasie, Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Toyota Hilux D4D) het ook twee seges na twee renne agter hul name wat hulle tot bo-aan die Klas D-punteleer geneem het. Hul naaste mededingers is tans laas jaar se voorste beginners, Dewald van Breda en Johan du Toit in die Northam-Toyota Hilux D4D.

Johan Fouché en Wentzel Pretorius (Mitsubishi Colt) en die nuwelinge, Heinie Strumpher en Jan Hendrik van der Linde (Micaren Exel-Toyota Hilux) deel die derde plek. Strumpher en Van der Linde het hul eerste nasionale punte tydens die Oos-Kaap 400 aangeteken.

Venter en Palmer het ‘n stewige voorsprong in Klas E met twee spanne – Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon Racing-Ford Ranger) en Pikkie Labuschagne/Rikus Erasmus (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) – wat die tweede plek deel. Twee spanne, die huidige kampioene, Jannie Visser/Joks le Roux (RFS-Toyota Hilux) en Bamphumze Rubuluza/Khuliele Vakaliza (Ford Racing Ranger), deel die derde posisie.

Die volgende ronde op die kalender is die Nissan Sugarbeld 400 wat op 15 en 16 Mei in KwaZulu-Natal plaasvind.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply