Geluk draai vir Hutchison / Bergmann

 

Na twee byeenkomste het die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann, meer punte in die Spesiale Voertuigkategorie aangeteken as wat hulle tydens die hele seisoen van laas jaar se Absa-Veldrenkampioenskap kon doen.

Twee agtereenvolgende oorwinnings aan die begin van die seisoen verteenwoordig ‘n groot draai in Hutchison en Bergmann se geluk. Selfs meer merkwaardig is die feit dat hulle die Adenco 400- en Oos-Kaap 400-seges in die nuwe Revo1 4×4 opgeraap het.

Nuwe renvoertuie is bekend vir hul tandekryprobleme, maar die Revo1 4×4 het reeds gesorg dat Hutchison en Bergmann dubbeld soveel oorwinnings as laas jaar aanteken. Die algehele en Klas A-kampioenskappe het egter nou eers begin, maar Hutchison en Bergmann se seisoen het uitstekend fgeskop en dit sal moeilik wees om hulle tydens die res van die seisoen te vang.

Twee bestendige renne het Mike Whitehouse en Mathew Carlson (Regent Racing-BAT) tot in die tweede plek in die algehele kampioenskap gelig. Nick en Ryan Harper (Atlas Copco-BAT) is kort op hul hake en deel die derde plek met Naeem Mossajee/Mahtew Moultson (Tyre Rack-Jimco).

Die Klas P-voorlopers, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) en Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total-Porter) is gelyk in die vierde posisie. Die voormalige Klas B-kampioene, Jan en Hendrik Kraaij (Keymax-BAT) rond die top vyf af.

Die punteformaat van veldrenne met verskillende strukture vir die algehele en klaspunte beteken dat daar die Klas A-prentjie effens anders lyk. Hier deel die Harpers, Moosajee/Moultson en Whitehouse/Carlson almal die tweede plek agter Hutchison en Bergmann.

Geen Klas B-spanne kon die onlangse Oos-Kaap 400 voltooi nie en die Century Racing-paar van Simon Beckett en Steve Harris het dié ren misgeloop. Dit beteken dat die top drie dieselfde bly as na die Adenco 400 met Bes en Deon Bezuidenhout (Adenco-BAT) wat voor Beckett/Harris en Derick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree-BAT is.

Klas P beskik oor al die eienskappe om ‘n uiters mededingende kategorie te word. Adenco 400-wenners, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) het ‘n sege en ‘n derde plek tot hul krediet en dit is genoeg om aan hulle ‘n vroeë voorsprong bo die Kraaijs te gee wat in die Oos-Kaap tot veldrenne teruggekeer het en dié ren gewen het.

Derde is die nuwelinge, Johan van Staden en James Rossouw in die KEC-BAT. Hulle het ‘n indrukwekkende tweede plek tydens die Oos-Kaap 400 ingepalm en lyk na ‘n span om in die toekoms dop te hou.

Die volgende byeenkoms is die Nissan-Sugarbelt 400 wat op 15 en 16 Mei in KwaZulu-Natal aangebied word.

bydrae: Charmaine Fortune


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply