Die uitkloptoets in die Spesiale Voertuigkategorie tydens die finale ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Vrydag en Saterdag by Tarlton International Raceway plaasvind, gaan gelykstaande aan die OK Corral-episode wees.
Die algehele kampioenskapvoorlopers, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Team Total- Porter en die pa- en seun-kombinasie van Kallie en Quinton Sullwald in die Elegant Fuel-BAT se gewere sal oorgehaal wees vir mekaar. Net ses punte skei dié twee spanne van mekaar met verskeie uiteindes, insluitende ‘n gelykopstryd, wat nie uit die prentjie gelaat kan word nie.
‘n Gelykopstryd – as die Sullwalds wen en Variawa/Rousseau tweede klaarmaak – sal beteken dat die twee spanne gelykop sal eindig met drie seges elk agter die blad. Die hoeveelheid tweede plekke sal dan in berekening gebring word en die titel sal aan die Sullwalds behoort.
‘n Tweede Sullwald-pa- en seun-span, Herman en Wichard (Sullwald Racing-SVR) sluit by die aksie in die Klas A-kampioenskap aan en dra tot die interessantheid by. Dié situasie het as gevolg van ‘n verskil in die veldrenpuntestelsel ontstaan en ‘n tweede Sullwald-voertuig kan ‘n belangrike rol in die uiteinde van die kampioenskap speel.
Tussen al die onsekerhede is dit ‘n feit dat Variawa/Rousseau en die ander twee Sullwald-spanne hulself nie met taktiek en kombinasies gaan ophou nie. Al drie spanne sal wil wen en dit is die Team Total-span se geluk dat hulle teen twee voertuie uit dieselfde kamp te staan gaan kom.
Daar is natuurlik ander spanne wat die kombinasies omver kan werp. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing CR3) al hul sommetjies regkry en ‘n oorwinning aanteken. Nóg ‘n pa- en seun-span, Nardus en Louis Alberts (Wrapsa BAT) het goeie vertonings gelewer sedert hul Sun City 400-debakel terwyl die uittredende jaerskampioen, Evan Hutchison en die top motorfietsjaer, Darryl Curtis (Motorite Revo1 4×4) goed vertoon het met meganiese probleme wat hulle gekniehalter het.
Die KwaZulu-Natal-paar, Clint Gibson en Gary Campbell (Gibson Racing SVR) kan vir ‘n opskudding veroorsaak terwyl Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya (Maxxis / Tyre Rack Porter) hul seisoen op ‘n hoë noot sal wil afsluit. David White maak ook ‘n welkome terugkeer met sy Klas A-debuut in ‘n Ruwacon BAT met Eugene Coetzee wat die navigator sal wees.
Die Klas P-kampioene, Johan van Staden en James Rossouw (Atlas Copco-BAT) is top vyf-kandidate en in ‘n onderlinge stryd word Nick Harper (Atlas Copco BAT); Jimmy Zahos (Cobalt Racing Porter) en Archie Rutherford in die Regent Racing Jimco wat in Klas P deelneem, deur slegs twee punte van mekaar geskei. Harper, Zahos en Rutherford het almal van meer as een navigator deur die loop van die seisoen gebruik gemaak.
‘n Paar Noordelike Streeks-spanne wat nou op nasionale vlak deelneem, sal by die gereelde deelnemers Keith du Toit/Ashley Thorn (White Star Rcing BAT) aansluit. Jacques Wheeler en die ervare Danie Stassen sal in oorlede Bevan Bertholdt se lab88-BAT wees met David en Louw Zeelie in ‘n Aceco; Dino Scribante en Justin Fuchs in ‘n BAT en Edoardo en Ricardo Argazzi in ‘n nuwe Zarco Magnum.
Dit sal egter uiteindelik oor die stryd tussen Variawa/Rousseau en die Sullwalds gaan. Dit gaan vurig en vinnig wees en kan deurtrek wees met die onverwagte.
Die Klas B-kampioenskap behoort reeds aan die Kaapse veteraan, Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie, in die Adenco BAT. ‘n Sege tydens die Human Auto 400 het hulle buite bereik van Coetzee Labuscagne en sy dogter, Sandra (Raysonics Zarco) geplaas wat nou in ‘n stryd met Keith en Andrew Makenete in nóg ‘n Zarco gewikkel is.
Die Laguscagne’s is vier punte voor die Makenete’s en die stryd om die tweede plek behoort in ‘n goeie familiegeveg te ontwikkel. Die Klas B-inskrywingslys word deur Johan de Klerk en Lappies Labuschagne en die UTV Racing-inskrywings van Stratford Voogt en Sidriaan de Villiers asook Dwayne Voogt en Harry Steffen aangevul.
In Klas P het Van Staden en Rossouw reeds die kampioenskap in die Vrystaat ingepalm, maar hulle sal onder druk van Rutherford en Mike Lawrenson wees asook die Swaziland-blitse, John Thomson en Clinton McNamara (Zarco); Johan en Deon Bezuidenhout (Adenco BAT) en die Century Racing CR2 in die hande van Mark Corbett en Rudi Balzer.
Een punt skei Johan Bezuidenhout en Corbett tussen die jaers terwyl twee punte Deon Bezuidenhout; Balzer en McNamara in die navigatorsstryd van mekaar skei. Die man- en vrou-paar, Marius en Jolinda Fourie het indrukwekkend vertoon nadat hulle van streeksrenne opgeskuif het en daar sal heelwat wedywering tussen veteraanspanne soos Richard Schilling/Chris Davies (Aceco); Bodo Bertholdt/Philip Herselman (Atlas Copco BAT) en Nic Goslar/Richard Carolin in die Men’s Health International Zarco wees.
bydrae: Charmaine Fortune
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
