Woestynren ‘n ekonomiese inspuiting vir Botswana

Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren het tot die grootste jaarlikse sportbyeenkoms in Botswana gegroei en vanjaar geniet dié byeenkoms selfs meer steun van die regering.

Die Botswana Toerisme-Organisasies (BTO) speel weer eens ‘n groot rol in die byeenkoms wat van 24 tot 26 September aangebied word. Vanjaar vorm die ren die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap met die renhoofkwartier wat van die Game city-kompleks in Gaborone na Kumakwane verskuif het.

Die byeenkoms word weer deur die 4 Wheel Drive-klub van Suidelike Afrika georganiseer wat in samewerking met Toyota en Mascom Cellular Botswana nou met die BTO en ander regeringsdepartemente saamwerk. Die klub is by die ren betrokke sedert dit in 1991 na Botswana verskuif het.

“’n Belangrike faktor tot die sukses van die ren is die goeie verhouding wat ons met die BTO en ander regeringsdepartemente het met wie ons deel,” het die renvoorsitter, Alan Reid, gesê. “Om die ren te organiseer is ‘n ongelooflike logistiese oefening en ons sou dit nie kon doen sonder die samewerking wat ons van die regering en ander plaaslike owerhede kry nie.”

Myra Sekgororoane, die Hoof-Uitvoerende Beampte van die Botswana Toerisme-Organisasie, sê dat die Toyota 1000-Woestynren deur die jare tot ‘n byeenkoms in Botswana gegroei het wat nie gemis kan word nie. “Dit is ‘n sosiale, kulturele en sportbyeenkoms als in een,” het sy gesê.

“Die ren versterk bande tussen Botswana en Suid-Afrika en voorsien ons van ‘n belangrike ekonomiese inspuiting.”

Daar word bereken dat die toevloei van deelnemers, ondersteuningsspanne en toeskouers van Suid-Afrika en ander buurlande ongeveer 7 miljoen Pula vir Botswana in buitelandse valuta werd is. Daar is ook ‘n positiewe nadraai deurdat groot hoeveelhede mense wat gedurende die ren òf deelnemers òf toeskouers is, later terugkeer om ander dele van Botswana te besoek.

Ms Sekgororoane het bygevoeg dat behalwe vir die toerisme-inspuiting die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren verskeie geleenthede aan kleinskaalse entrepreneurs langs die roete bied wat ‘n wye verskeidenheid dienste aan deelnemers en toeskouers lewer. Daar word verwag dat die byeenkoms oor die bestek van drie dae meer as 120 000 toeskouers van Botswana, Suid-Afrika en buurlande sal trek terwyl daar selfs al entoesiaste van sover as Europa was.

Meer as 80 beamptes is by vanjaar se renorganisasie betrokke en hulle sal deur 16 mediese en reddingsvoertuie aangevul word. Alle renbeamptes sal in radiokommunikasie wees en ongeveer 600 Botswana-polisiebeamptes sal langs die roete ontplooi word om skare- en verkeerbeheer toe te pas.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply