Deelnemers mik vir Kalahari se ererol

Tydens vanjaar se Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 24 tot 26 September plaasvind, sal ‘n paar deelnemers poog om dié byeenkoms se rekordboeke te herskryf.

Die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen, Duncan Vos, sal ‘n ongeëwenaarde vierde agtereenvolgende sege in die Produksievoertuigkategorie najaag terwyl Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Team Total Porter) vir ‘n driekuns oorwinnings in die Spesiale Voertuigkategorie sal mik. Net een ander jaer, Hannes Grobler, kon drie keer agtermekaar in die Produksievoertuigkategorie wen en net een ander span – Franz Czepek senior en junior – kon drie agtereenvolgende seges in die Spesiale Voertuigkategorie inpalm.

Grobler het sy oorwinnings in 2002, 2003 en 2004 saam met Richard Leeke as navigator aangeteken terwyl Vos se drie seges met die hulp van drie verskillende navigators was. Leeke het ‘n rekord van agt seges met Vos in 2007 aangeteken terwyl hy vir Ralph Pitchford ingestaan het wat verpligtinge oorsee nagekom het.

In 2008 was Pitchford ook oorsee met Louis Weichelt wat vir hom ingestaan het. Vos en Pitchford het laas jaar uiteindelik saam gewen en aan Nissan hul agtste agtereenvolgende oorwinning besorg.

Vos se drie seges is ook met Nissan-voertuie aangeteken. Vanjaar sal Vos egter deel van die Castrol-Toyota-fabriekspan uitmaak en hy span kragte met Rob Howie saam.

Die Czepeks het drie jare agtereenvolgens van 1997 tot 1999 gewen en het ‘n vierde sege in 2000 aangeteken. Nick en Ryan Harper wat in 2006 gewen het en Kallie en Quinton Sullwald wat die daaropvolgende jaar geseëvier het asook die Czepeks is die enigste pa- en seun-kombinasies wat dié ren al gewen het.

Grobler, wat vanjaar met die RFS BMW deelneem, sal vir ‘n vyfde sege mik en so ook sal die Span Castrol-staatmaker, Robin Houghton. Grobler se vier oorwinnings het hy saam met Leeke (3) en Francois Jordaan aangeteken terwyl Houghton se vier seges almal saam met die voormalige kampioen, Apie Reyneke, wat dié byeenkoms ses keer in Toyota Land Cruisers gewen het, was.

Grobler hou ook die rekord vir die langste gaping tussen renoorwinnings. Hy het die eerste keer in 1986 saam met Piet Swanepoel gewen en moes tot 2002 vir sy volgende oorwinning wag.

Twee ander veldrenveterane wat weer vanjaar deelneem, Buks Carolin en Neil Woolridge, het elk drie oorwinnings aangeteken. Carolin het as jaer saam met sy broer, Richard in 1995 gewen en twee keer as navigator saam met Atang Makgekgenene in 2004 en 2005.

Die Carolins is die enigste broers wat dié ren kon wen. Buks navigeer vanjaar in die Regent Racing-Nissan Navara vir Terence Marsh terwyl Richard saam met Nic Goslar kragte in die Men’s Health International-Zarco sal saamspan.

Woolridge, die Ford-staatmaker, het vir die eerste keer in 1995 saam met Paul Vermaak gewen en toe weer in 2000 en 2001 saam met Kenny Skjöldhammer. Die 2001-sege was die laaste wat ‘n ander voertuig as ‘n Nissan die Produksievoertuigkategorie gewen het.

Ander voormalige wenners wat vanjaar deelneem is Weichelt, wat die N1 4×4-Toyota Land Cruiser in Klas D sal bestuur; Mark Corbett en Juan Möhr wat saam met ‘n Jimco in 2000 gewen het en die voorsitter van die SA Nasionale Veldrenvoertuig-Assosiasie, Richard Schilling wat in 1990 saam met Fred Levesque in ‘n Chenowth gewen het.

MOTORVOERTUIE
1975 Piet Lambrecht/Giel Potgieter Ford F250
1976 Piet Lambrecht/Tony Hawken Ford F250
1977 Micky & Sheila Osborne-Thompson Audi Special
1978 Robin Tilney/Hugh Beswick Toyota Land Cruiser
1979 Petra Marais/Mervyn Woods Kartkraft Sprinter
1980 Des Tarboton Sandmaster
1981 Petra Marais/Selwyn Robinson Kartkraft Sprinter
1982 Des Tarboton Sandmaster
1983 Hennie Reyneke/Mike Fourie Nissan Safari
1984 Paddy Driver/Richard Leeke Mitsubishi Pajero
1985 Geoff Mortimer/Brian Woodhead Audi Quattro
1986 Hannes Grobler/Piet Swanepoel Nissan Safari
1987 Apie Reyneke/Lucas Dreyer Nissan Safari
1988 Andre Kock/Koos Coetzee Toyota Land Cruiser
1989 Philip Malan/Richard Leeke Toyota Hilux
1990 Richard Schilling/Fred Levesque Chenowth
1991 Klaus Degener/Derrick Pinnoy Chenowth
1992 Kassie Coetzee/Richard Leeke (Produksievoertuie) Toyota Hilux
Craig Hopkinson/Martin Spencer (Spesiale Voertuie) VW
1993 Kassie Coetzee/Richard Leeke (Produksievoertuie) Toyota Hilux
John Lambert/Eric Scholtz (Spesiale Voertuie) Digidoor Porsche
1994 Apie Reyneke/Lucas Dreyer (Produksievoertuie) Toyota Land Cruiser
Robert Wark (Spesiale Voertuie) Raceco
1995 Apie Reyneke/Robin Houghton (Produksievoertuie) Toyota Land Cruiser
Richard Carolin/Buks Carolin (Spesiale Voertuie) Raceco
1996 Neil Woolridge/Paul Vermaak (Produksievoertuie) Nissan Sani
Marius Beaurain (Spesiale Voertuie) Mighty Mag
1997 Apie Reyneke/Robin Houghton (Produksievoertuie) Toyota Land Cruiser
1998 Apie Reyneke/Robin Houghton (Produksievoertuie) Toyota Land Cruiser
Franz Czepek (Sr)/Franz Czepek (Jr) (Spesiale Voertuie) Raceco
1999 Apie Reyneke/Robin Houghton (Produksievoertuie) Toyota Land Cruiser
Franz Czepek (Sr)/Franz Czepek (Jr) (Spesiale Voertuie) Raceco
2000 Mark Corbett/Juan Mohr (Spesiale Voertuie) Jimco
Neil Woolridge/Kenny Skjoldhammer (Produksievoertuie) Mitsubishi Pajero
2001 Neil Woolridge/ Kenny Skjoldhammer (Produksievoertuie) Ford
Franz Czepek (Sr)/Franz Czepek (Jr) (Spesiale Voertuie) Chenowth
2002 Hannes Grobler / Richard Leeke (Produksievoertuie) Nissan
Greg Daus / VZ van Zyl (Spesiale Voertuie) Raceco
2003 Hannes Grobler / Richard Leeke (Produksievoertuie) Nissan
John Weir-Smith / Geoff Minnitt (Spesiale Voertuie) Jimco
2004 Hannes Grobler / Richard Leeke (Produksievoertuie) Nissan
Atang Makgekgenene / Buks Carolin (Spesiale Voertuie) Jimco
2005 Alfie Cox/Ralph Pitchford (Produksievoertuie) Nissan
Atang Makgekgenene/Buks Carolin (Spesiale Voertuie) Jimco
2006 Hannes Grobler / Francois Jordaan Nissan
Nick & Ryan Harper BAT
2007 Duncan Vos / Richard Leeke Nissan
Karl-Heinz Sullwald / Quintin Sullwald Zarco
2008 Duncan Vos / Louis Weichelt Nissan
Shameer Variawa / Siegfried Rousseau Porter
2009 Duncan Vos / Ralph Pitchford Nissan
Shameer Variawa / Siegfried Rousseau Porter

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply