Dit is die winter van 1795. Die Kaap is nog Hollands, maar nie meer vir lank nie.
Kommissaris Sluysken, die VOC se hoofamptenaar aan die Kaap, het sy Politieke Raad vir ’n vergadering in die Kasteel byeengebring. Hier sit kolonel Robert Gordon, bevelvoerder van die garnisoen, avonturier en Oranje-man. Ook majoor William van Reede van Oudshoorn, lord Hunsdon, vir wie dié land en dié dorp sy lewe is; verloor hy dit, word hy niks. Hy is bevelvoerder van ’n korps klerke wat vir hierdie krisis hul penne vir gewere moet inruil.
Sluysken lees ’n brief voor van die bevelvoerder van die Engelse vloot by Simonstad wat dreig om sy matrose op die land los te laat. William kyk strak voor hom uit. Hy en kameraad Louis Thibault het reeds ’n krygplan ter tafel gelê. Sy hoop is op die binnelanders, eerder as op Gordon se garnisoen – die boere, wat so hard soos hierdie kontinent se klippe is.
Tussen Gordon en Van Oudshoorn sal die stryd om die siel van hierdie droewe land besleg word. Of vir ewig bly voortwoed.

1795 word op 25 Julie 2016 vrygestel.
Uittreksel:
Die vyand se verkenning is skerp, doeltreffend; hulle weet wie op die Kaapse Raad sit en probeer individuele lojaliteite toets om die geheel te ondermyn. Van hom weet hulle reeds sy naam, hulle wou lord Hunsdon spreek. Wat wou hulle by hom hoor of van hom hê? Met kaarte en moontlik selfs die bouplanne van ons batterye in besit, ken hulle nou die Kaap se krag. Ken hulle die staat van gereedheid? Hulle ken waarskynlik die swakhede, hoe min soldate, hoe klein die reserwe. As die Engelsman se verklaarde doel – beskerming vir die duur van die oorlog – opreg was, was geen voorwendsels of agteraf gedrag nodig nie. Verwag dus voortgesette lis, ondergrawing van eensgesindheid, die saai van tweedrag in die gemeenskap. Verdink kollegas, verdink die hoë rang, status en amp, wantrou die gewone groet, die gelukwensing, die ete-uitnodiging. Luitenant Veegezak is reg, die vyand het te ver gekom om met leë hande terug te gaan.
Henri Campagne, sy eerste klerk, groet en wys met sy pluim na die kantoordeur. “Madame de Rem’ny wag binne.” Henri is oor ’n tweegeveg met swaarde waarin ’n rektor se neef ’n oog verloor het, uit die Sorbonne geskors. Daarna was hy ’n ongewilde en ontevrede sersant van die Switserse huurregiment, maar is nou een van sy beste in die Korps Pennisten.
“Wie? Stuur vanoggend meel aan die bakkery in Simonsbaai. Genoeg brood vir driehonderd man vir ’n week.”
“Goed. Madame de Remony verlang meneer se hulp.”
Sy is ’n lang vrou, amper so lank as hy, sy staan op toe hy binnekom; die seun bly vooroor geboë, sy elmboë op sy knieë. Haar gesig is ovaal, met die kalm statigheid van die Madonna wat Hans Memlinc drie eeue gelede geskilder het. Sy dra ’n donkergroen mantel om haar skouers, onder die mantel sien hy swart crêpe. Haar dik bruin hare onder ’n plat swart mus is agter haar nek gerol en gebind. Sy praat met hom en hy hou haar mond dop: Aan weerskante is ’n duidelike regaf keep soos van ’n vaste glimlag. Haar Nederlands word deur ’n Franse uitspraak versag en dit klink of sy soms effens hakkel, maar oor die donderende kanonne buite is dit moeilik om haar te volg. Sy raak aan die seun se skouer en wys hom om te staan en sy hoed te verwyder. Onder die hoed is ’n bos oranjerooi hare; daar is beserings aan sy gesig, pers kneusings onder sy oë, aan sy mond en sy neus. Sy oë bly neergeslaan.
“William van Oudshoorn.” Hy beduie na sy ore. “Verskoon asseblief die geraas. Ons moet ’n alarm na die platteland deurkry, maar die weer is klam en dit mag ’n ruk duur. U naam?”
“Francine-Marie de Remony.” Sy hou haar hand uit, sy het haar fyn swart handskoen uitgetrek. Sy dra ’n smal silwertrouring. Miskien dertig, vyf-en-dertig jaar oud. “My seun is André. My man was Pierre André de Remony van Moutier in Frankryk.”
Hy vind die effense hakkel in haar spraak raar en interessant, sy oë rus op haar mond terwyl sy praat. Is sy gespanne, senuweeagtig oor die geluide van oorlog buite? Êrens in sy geheue klop iemand aan ’n deur: Francine de Remony, waar het hy dié naam gehoor? Sy hou haar kop regop. In die profiel is die ronde voorkop waaroor ’n donker kuif hang, ’n reguit neus, ’n vol warm mond, sterk ken en kakebeenlyn, twee groot ore soos seeskulpe.
“Wil u sit?” Sy sak stadig neer op die stoel, met haar rug regop, die skouers netjies haaks. Sy lyk moeg, haar vel is bleek. Sy kyk in sy gesig; haar oë is donkerbruin. Hy vra: “Wil jy sit, André?” en beduie na sy eie stoel agter die skryftafel, maar die seun skuif stil agter sy ma in.
“Ek is al ’n maand lank in die land, monsieur. Die resident in Simonsbaai het my werk aangebied as goewernante vir sy dogters. Met sy guns het ek met die waens boodskappe en briewe aan u gestuur, sonder om ’n antwoord te kry. Dit het te erg geword; die kinders van die resident het André daagliks aangerand. Franse hond, sê hulle, en noem hulself helde van Oranje. Ek kon nie verstaan dat ek nie van u hoor nie. Ons was soos gevangenes. Ek het onrustig geword: Ons is vreemdelinge, ons kom hier en hier is oorlog, twyfel, vyandskap selfs tussen kinders. Ek het ons kiste gepak en toegesluit. Ons het geloop, met net die sleutels in my hand. Ek het nie verwag dat dit so sal reën nie. Twee Engelse offisiere het ons naby Mont Souris opgelaai en tot hier gebring. In die losieshuis van monsieur De Wit is ons klere gedroog.”
Hy luister na haar sinsbou: Die kinders van die resident . . . In die losieshuis van monsieur De Wit . . . Les enfants du Résident. Dans le pensionnat de monsieur De Wit. Mont Souris is ’n deel van Parys. Berg van muise? Muysenburg; twee ure lank te voet in die reën. Dit is waaragtig braaf van haar. En sy sal baie moeg wees.
“Kan ek u van diens wees, madame? Ek kan vir u koffie aanbied.” Franse drink tee wanneer hulle siek is, as medisyne.
“Ja, dankie. Pierre de Remony was die onderwyser wat u uit Nederland laat kom het.”
Hy sê by die deur: “Henri, vra koffie by die kok. ’n Pot, met koppies en pierings, nie kommetjies nie. Op ’n skinkbord met ’n skoon kleed. Enige koek of suikerbrood wat hy beskikbaar het.” Dan kom hy teenoor haar sit.
“Dit is so. Ek het my broer in Rotterdam gevra om ’n onderwyser vir my kinders te werf. Ek het nog niks van hom verneem nie. Pos is altyd stadiger en meer wisselvallig in oorlogstyd. Is u man nog in Simonsbaai?”
“Pierre is op see vermoor.” Haar stem bewe. Daar is nie trane nie, maar woede in haar oë.
“Ag, nee. Ek is spyt om dit te verneem. Op watter skip? Is die saak aan die skipper bekend gemaak, vir ondersoek?
Sy swyg; sy kyk na die seun. “Ek moet die heer vertel.” Sy hou haar kind dop tot hy sy kop effens beweeg in instemming of miskien apatie, dan draai sy vorentoe. Haar stem en hande bewe.
Hul skip was Verschil van die Rotterdamse kamer. Die skipper is Jacob Joppe de Jonge, sy eerste offisier Diederik Kikker, die tweede Och Ochse, die derde Nils Oskar Peterson, die vierde Albert Alfons Jansz. Hulle het by die ewenaar bygedraai en die seile opgegei en ingebind sodat die skip stil lê. Paasdag op die ewenaar, die dag van die Opstanding, ’n Sondag. Joppe was trots op sy navigasie en het dit van vroeg af gevier. Hulle kon dit hoor, hy was dronk. Hy het gesê vandag word dié wat nog nie die linie oorgesteek het nie, gedoop, donderse varke, wat kom soek julle in koning Neptunus se domein, wat het julle te sê ter versagting van vonnis? Later het dit onder die kajuitgaste uitgekom, dit was ook Joppe se eerste oorsteek van die linie.
William weet van die Groot Doop, ’n opgemaakte tradisie vir die vermaak van geweldenaars, hy het dit self gesien: Die sogenaamde ‘wagenspoor’ is twee parallelle potloodlyne op die kaart. In dié smal gang alleen, steek jy van halfrond na halfrond oor, as jy suid vaar uit die Guineestroom na die Brasiliaanse Stroom, as jy noord vaar uit die koue Benguela na die warm Golfstroom. Dis ’n moeilike plek waar jy van een towertapyt op ’n ander oorklim. Die blinkgroen see strek hier sonder beweging in elke rigting en ’n skip lê dae aaneen op die spieëlgladde oseaan, net aan sy weerkaatsing geanker. Die tropiese hemel is dynserig en die lug drukkend bedompig en ongemaklik warm; dis moeilik om asem te kry. Matrose skep potlepels vol lou drinkwater uit die vat by die grootmas, hul kaal bolywe blink van sweet, hulle stink onder die arms en in die lieste, hul asems vrot. Hulle skep met emmers slierte groen kroos uit die see en drapeer dit op die boord en in die wante, hulle versier die troon van greinhout en seil wat vir koning Neptunus voorberei is met groen seewier. Die timmerman en smid het vir hom ’n kroon en ’n drietandvurk gemaak. Daar sit skipper Joppe, kroes in die hand. Dronk van oormaat arak voel die seevolk vir dié uur of twee van die seedoop welgesind teenoor hul skipper en offisiere, selfs teenoor hul bliksems van kwartiermeesters met hul ewige entjies tou.
“Overal!” word geroep. Die skipper stuur kwartiermeesters om die skip te deursoek en van nuwelinge leeg te maak. Hulle word soos skape in die kuil bymekaar gejaag. Daar word hul gesigte swart gesmeer met pik en hulle word ’n pot gemors gegee om van te drink. Die skipper drink skoon arak in die voormiddag, kap met die kroes teen sy troon: “Laat hulle van die grootra loop!” skreeu hy deur die roeper uit sy hoë stoel en beduie omhoog met die drietand. “Grootra!” juig die ongewaste horde in die kuil. Dié wat nie kan of nie wil begin nie, kan hulle nou loskoop; dis drankgeld vir die oorlamme, die ou manne.
Die grootra se witgeverfde punte hang oor die see, vyftig voet hoog bo die rimpellose water. Die dopelinge word met slae want-op gedryf. Die punte van kwartiermeesters se entjies tou is teruggesplits en dik geteer, hulle laat daardie swart tonge na links en na regs flikker, na links en na regs, en met mening, om bloed te trek. “Op daar, baar dônners, op daar. Op daar.”
Die nuwelinge moet die want op; hulle klou vas, sommige versteen, kreunend. Dié wat die kruis bereik, moet op die ra uitloop om van die punt af in die see te spring. Hulle klou aan ’n tou wat vir hulle gespan is, hulle skuifel voet vir voet uit oor die see of sit wydsbeen op die ra en skuif-skuif vorentoe. ’n Bootsman wag daar ver op die punt gereed om die wat huiwer te help, van die paal af tot in die see ver onder. Die see voel hard soos grond wanneer hulle dit tref. ’n Roeiboot lê beman in die water om hulle hygend en proesend uit te lig as hulle opkom.
“Ons het nie geld gehad nie,” sê sy. “Oor Pierre se naam uit die laer adel het ons voor die rewolusie landuit gevlug, Nederland toe, om daar te probeer bestaan. Die verdraagsaamste land van almal, is ons vertel. Toe val die Franse Nederland binne. Ons het in Rotterdam van dié werk in die Kaap verneem, en het dadelik aan u geskryf. As ons aanhoudend moet vlug, het ons gedink, gaan ons nou die einde van die aarde soek, waar André vry kan grootword. En ook, die winters het ysig koud geword, oral ys en sneeu, alle water bevrore.”
Maar, dink hy terwyl hy haar moeë en bleek gesig dophou, die donker oë, die mondhoeke met twee droewe kepies en luister na haar sagte, welopgevoede stem met die onverwagte ligte hakkel: Vryheid is hier nie gewaarborg nie, hier heers die Kompanjie en het die noodlot al vele ongelukkiges ingehaal.
“Pierre het as soldaat aangesluit om vir ons passaat te werk. Ons reis was ook ’n vorm van doop, ’n oorgang van een lewe na ’n ander. Toe kom daardie aanranding op die ewenaar. Hy het geweier, hy sou uit beginsel nie betaal nie en ook nie aan hul sotlikhede deelneem nie. Hy was altyd trots en het dit gehaat om aangeraak te word. Stoot, slaan, stamp, met dade of ook net met woorde, verstaan u. Die ergste was dat minderes hom probeer dwing of waag om hom aan te raak. Hy het hom op die skipper beroep en is uitgelag. Hy was alleen teen die dronk horde. Toe hulle hom met toue slaan en aan sy arms gryp om hom in die want op te sleep, het hy vloekend teruggeveg, toe losgeruk en in die see gespring. Hy het vloekend om hul skip geswem; toe hul boot nader roei het hy aangehou om dit te ontwyk. Toe hulle hom inhaal het hy sy arms oor sy kop gelig, opgekyk na die hemel en regaf weggesink. Die roeiers het daar onder die son op hom gewag, op hul spane gerus, skreeuend met drankflesse in die hand en brakend in die see. Die skipper het deur sy trompet oor die see geskreeu: Nou kry ons jou vrou, terwyl sy volk oor die boord hang en lag.
1795 / Dan Sleigh — Tafelberg, 25 Julie 2016; 512 p. ; sagteband. — ISBN 9780624073307
1795,
Bettie Blom,
17 Julie 2016.
