Die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers bederf boekwurms op 13 en 14
November met ’n uitstekende skrywersprogram. Die jaarlikse Jakes Gerwel-gesprekke word gratis by
kykNET Atlantic Studios aangebied, en spog met gunstelinge soos Deon Meyer, Antjie Krog, Diana
Ferrus, Dana Snyman en Ryan Pedro.

Deon Meyer praat met Elna van der Merwe oor sy nuwe trefferboek, Donker drif, en Dana Snyman
gesels met Erns Grundlingh oor sy 100 gunstelingstories wat in die bundel Onder een dak opgeneem
is. Nuwe lig word gewerp op die verhaal agter Nelson Mandela se vrylating tydens ’n gesprek tussen
Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert. Vir die boek Prisoner 913 het skrywers Riaan de Villiers en Jan-
Ad Stemmet in voorheen geheime rekords oor die oudpresident gedelf.

Ivor Swartz se aangrypende verhaal, Die verlore seun vannie Gaatjie, kom onder bespreking wanneer
die skrywer deur Frazer Barry uitgevra word. In Vers en vrou kom van Afrikaans se gewildste digters
byeen om te gesels en voor te lees. Digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus, Shirmoney Rhode en
Truise Prinsloo word deur die uitgewer Nèlleke de Jager oor die bloemlesing Vers en vrou gepols.
Ryan Pedro, wie se debuutbundel Pienk ceramic hondjies groot opspraak verwek, is ook aan die
woord.

Die jongspan sal gaande wees oor Rafiek Mammon se Faizel en die sterre. Dié hartroerende verhaal
gaan oor ’n seuntjie wat sy pa en die lewe met moeite in die oë kyk omdat hy “anders” is.

In Grendeltyd in woorde deel Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going
menings oor die gewraakte Covid-19-virus wat die hele wêreld op sy kop gedraai het. Hulle boek
Lockdown Collection kyk na die emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die
gevreesde pandemie wat soos ’n veldbrand versprei.

Willem Anker, wat onlangs op die langlys van die gesogte Bookerprys was, kom praat oor sy jongste
roman, Skepsel. Tertius Kapp vra Anker uit oor die boek wat deur kritici hoog aangeprys word. SJ
Naudé beskryf Anker se boek as “’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van
vreemde dinge leer.”

Kom ervaar Afrikaans se voorste skrywers by die Suidoosterfees en verruim jou perspektief op die
wêreld. Alle gesprekke is gratis, maar sitplekke is beperk. Om teleurstelling te voorkom, bespreek
nou by Francois.Abrahams@media24.com. Vir die volledige program, besoek
www.suidoosterfees.co.za.

Lewer kommentaar

Leave a Reply