In Gabriëllië het nege jaar reeds verloop sedert daar enige teken was van ’n Bergengel en glo die jonger generasie byna nie meer aan die bestaan van dié mitiese kreature nie.

Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie én werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n lewensveranderende avontuur vertrek.

Wie is die misterieuse Reënboogmaker met wie hulle pad elke nou en dan kruis? Is die brande wat deur die land trek werklik net vure van vernuwende “skoonbrand”, soos die Regiohoofde beweer, of is dit die gevreesde Vuurstorms waarvan die geskiedenis vertel?

’n Mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse lesers sal spreek.

“ … daar is sekere vermoëns wat alle Bergengele oor alle eeue heen in hul wese moes inweef. Vermoëns soos die Dissipline van Feesviering (om elke klein vredesverdrag te vier), die Dissipline van Geheimhouding (om vir twee dekades aaneen die nasie sonder erkenning te dien, vermom as gewone werker) en die Dissipline van Gemeenskap en Afsondering.

Vir ’n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: of hy is ’n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, of hy is ’n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as ’n eenkantling.

Om ’n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ’n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.”

Die Bergengel / Carina Stander — Protea Boekhuis, 2 Mei 2017; sagteband. — ISBN 9781485307501

Die Bergengel

2.5

Lewer kommentaar

Leave a Reply