Dis logies

“Bietjie Cokies kyyyy … ?” vra my driejarige kleindogter singerig.


“Jou ma wil nie hê jy moet Coke drink nie, Mia. Dis sleg vir klein dogtertjies.”

“Mia mooi goot. Sy drink nie botties nie?” sê-vra sy verontwaardig. “Net ‘n baba slukkie? Seblief Ouma?” smeek sy. Ek maak ‘n fout wat ek later berou. “Goed dan,” sug ek. “Net ‘n báie klein baba slukkie. Níks meer nie. En jy sê nie vir jou ma nie.”

Sy maak ten volle gebruik van die geleentheid. Verstik amper soos sy ‘n ekstra groot sluk neem en die gas haar asem wegslaan. “Coke is swart!” proes sy. “Swart is lekke!” hoes sy met trane in haar oë en ‘n yslike glimlag.

Tevrede loop sy weg om haar Stikeez vir die hoeveelste keer volgens kleur te rangskik. Maak sy kleur assosiasies. Die eend is Mia-geel, die padda is mamma-groen en die seekoei pappa-blou. Eers daarna sorteer sy hulle volgens soort.

Vroegaand wanneer ek en sy hoenderboudjies en Mia-geel mielies op die vuur gaarmaak, smeek sy my vir ‘n baba slukkie van my glas rooiwyn. “Drink jou lekker koejawel sappies wat ouma spesiaal vir jou gekoop het.” “Seblief Ouma, net een baba slukkie?” “Net grootmense mag wyn drink my kind. Klein dogtertjies drink nie wyn nie. Dit proe vir hulle sleg.”

“Ouma jok soos ‘n bok! Coke is swart en Coke is lekke. Wyn swart en wyn lekke! My sappies pienk en pienk nie lekke,” trek sy haar mond skeef in afkeur …

Maandagaand bel my dogter. Sy lag en vertel sy was so ongemaklik toe sy vroeër vir Mia by die kleuterskool optel. Die juffrou vertel dat Mia haar vroeër die dag gevra het of sy wat die juffrou is, baie pille drink … waarop sy toe vraend “nee” antwoord.

“My mamma drink baie pille! Mia ook … én my katboeties,” gaan Mia toe skaamteloos voort.

My dogter, ver swanger met Mia se boetie, verduidelik dat sy daagliks die nodige vitamien- en kalsiumpille drink. Mia kry ‘n multivitamien-en-floriedpil. Net per toeval het die katte die vorige aand vlooi- en wurmpille gekry. Toe kry Mia ook sommer ‘n ontwurmingspil.

“Ja, natuurlik,” sê die juffrou. “O ja,” noem sy met die wegloop. “Mia vertel dat haar ouma se swart Coke en swart wyn baie lekker is?”

Mia kom volgende naweek weer kuier. In Pick ‘n Pay koop ek kossies waarvan sy hou. Ek talm voor die koeldrank yskas. Ja, ék drink Coke. Sal dit net ver agter in die yskas wegsteek. Vir haar kry ek appelsap. Sy hou mos nie van pienk sap nie.

Ek stap verby die lekker swart wyn. Kry ‘n oomblik van helderheid en sit tevrede ‘n bottel pienk wyn in die trollie.

Haar pa laai haar by my af, maar hy is nog nie eers terug in sy kar nie, toe smeek sy al vir ‘n baba slukkie Coke. “Ouma het nie Coke nie. Dis op. Kom, kyk, hier’s niks in die yskas nie,” verklaar ek met selfvertroue. “Maar ek het vir jou heerlike appelsap gekoop.”

Sy lyk nie juis beïndruk nie, maar bedank my en drink ‘n glasvol.

Vroegaand maak ons ouma-oranje vlamme. Ons sit om die vuur en eet chippies. Sy drink appelsap en ek skink vir myself ‘n glas pienk wyn.

“Seblief Ouma, kan Mia slukkie ky?” “Miatjie, ons gaan nie vanaand weer hierdeur nie. Klein dogtertjies drink nie wyn nie. In elk geval, dis pienk en jy hou mos nie van pienk nie.”

Ek sit toe die pot ver mis.

Dis logies
Dis logies
“Mia hou nie van jáááwelsap nie, Ouma? Sy hou van pienk smarties en pienk koekies en pienk lekkertjies … en pienk wyn.

“Ek het mos nou mooi vir jou verduidelik dat klein dogtertjies nie wyn mag drink nie, en ek praat nie weer nie,” maak ek my stem kwaai.

Na die braai borsel ons tande. So tussendeur skuimborrels en amper-naar-word-aksies aan haar kant, kry sy my toe terug.

“Mia ‘n klein dogtertjie. ‘n Baba, soos boetie in Mamma maag,” verduidelik sy en begin vallend oor die vloer rondkruip. Hande-viervoet kyk sy op. “Mia ‘n newborn!” sê sy duidelik trots op dié nuwe woord wat haar kop binne skiet. “Sy bottie melk ky ons in Ouma goot bed slapies.”

Met ‘n frons word die bottel melk vir my teruggegee. “Newborn drink wárm melk?”

Ons lê lekker sag tussen opgepofte kussings. Ek luister hoe sy die bottel melk leeg suig. Tot op die laaste-laaste druppeltjie.

“Melk wit. Wit lekke,” mompel sy slaperig. “Ouma my ruggie vyf?” vra sy amper onhoorbaar.

Terwyl ons vryf-vryf aan die slaap raak, wonder ek met ‘n glimlag watse onheilighede haar kleurvolle koppie Maandag by die skool gaan kwytraak …

Sluit aan by die Gesprek

4 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply