Donald Duck en Carl Barks

In die geskiedenis van strokiesprente word Carl Barks geloof vir die artistieke meriete van sy werk en sy vermoë om ‘n storie te kan vertel. Soveel so dat Donald Duck en Uncle Scrooge legendes geword het.

Donald Duck het reeds in 1942 die lig aanskou, en hy was nie alleen nie. Nog bekende karakters is saam met hom in sy avonture uitgebroei, onder andere Uncle Scrooge, die vernuftige Gyro Gearloose, die domste misdadigers in die wêreld, die Beagle Boys en die versameling nefies, Huey, Dewey, en Louie.

Donald Duck sou later internasionale roem verwerf as ‘n Disney-eend met ‘n spraakgebrek.

Ter viering van Barks se werk word die eerste boek in ‘n versameling volumes hierdie maand vrygestel. Die eerste van die eendstories is Lost in the Andes. Dit bevat die titelverhaal en ‘n paar ander uit die tyd toe die skrywer op sy beste was, 1948 tot 1950.

Die boek se twee hoogtepunte is die titelverhaal waar Donald en die nefies in Peru gaan soek na die herkoms van vreemde, vierkantige eiers.

Nog een wat uitstaan is “The Golden Christmas Tree”. Barks het nie juis met fantasie geheul nie, maar in die een kom die nefies te staan teen ‘n heks wat al die kersbome in die wêreld wil vernietig.

Wat die boek baie interessant maak is die bydraes deur die Barks-kenner Donald (ja dis sy naam) Ault. Ault het die inleiding geskryf, maar sy grootste bydrae is agter in die boek waar hy kommentaar lewer op elke verhaal met noukeurige verwysings.

Die kombinasie van Barks se gerestoureerde tekeninge en Donald Ault se bydraes maak Donald Duck ‘n boeiende onderwerp en laat mens verstaan hoekom Carl Barks so hoog aangeskryf word.

Donald Duck
Donald Duck

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply