As daar ´n huis of ´n skool in Suid-Afrika is wat kan sê dat hulle nie dié boek dringend nodig het nie, is hulle óf baie, baie gelukkig, óf hulle leef in ´n droomwêreld. Die subtitel van die boek is “Word straatwys oor dwelms – ´n ABC vir ouers en kinders”, en dit is presies wat dit is: ´n omvattende, duidelike, maklik verstaanbare handleiding oor elke aspek van die dwelmwêreld, foto’s van die dwelms, die klassifikasie en samestellings, beskrywings van die simptome van gebruik en afhanklikheid, kort, onderhoudende gevallestudies, selfs pryse.
´n Studie deur die sielkunde departement van die Universiteit van Kaapstad, die Mediese Navorsingsraad en die Wes-Kaapse Openbare Gesondheidsprogram het die skokkende bevinding gedoen dat Kaapse Graad 11 leerlinge verlede jaar R22-miljoen aan mandrax, dagga, alkohol en sigarette bestee het. Hierdie verstommende statistiek is die rede waarom Lux Verbi.BM besluit het dat dié boek ´n absolute noodsaaklikheid is.
Nog ´n skokkende feit is dat veral jonger kinders deesdae slagoffers is – meesal omdat hulle en hul ouers nie genoegsaam ingelig is nie. Die uitgewer is oortuig daarvan dat Dwelms elke kind en ouer met kennis sal bemagtig.
Maar dis nie net vreemde middels wat mens op partytjies raakloop of op straathoeke koop wat afhanklikheid kan veroorsaak nie. Die boek kyk ook na alledaagse medisyne en huishoudelike middels wat dikwels misbruik word, omdat mense nie besef hoe gevaarlik dit kan wees nie.
Verslaafdes kla dikwels dat hulle nooit die ware feite geken het nie. En terwyl daar baie gewaarsku word dat dwelms sleg en gevaarlik is, word die gevaarlikste feit dikwels verswyg, naamlik dat die aanvanklike resultate van dwelmgebruik in die meeste gevalle lekker is – totdat die afgryslike verslawing se vernietigende uitwerking intree. “Dwelms” se boodskap is dat daar hoop is, as daar kennis is.
Die skywer, Pieter Mans van die Suid-Afrikaanse Narkotika Buro, werk reeds meer as ´n dekade intensief in die nagmerriewêreld van dwelmslawe en tree gereeld op by skole en ander instansies om noodsaaklike inligting te gee.
Dwelms word uitgegee deur Lux Verbi.BM.
